Dalene betree weer die verhoog na lang siekbed
Gospel Country-sanger is positief oor toekoms en het groot planne.
BETHAL – Gospel Country-sangeres en motiveringspreker, Dalene Genis, het onlangs haar nuutste CD vrygestel.
Dit nadat dokters verlede jaar ná ‘n lang siekbed en herstelpad gesê het sy sou nooit weer kon sing of optree nie.
Voordat die nuutste regulasies oor die inperking en Covid-19 ingestel is, was Genis reeds volgeboek vir vertonings tot die helfte van vanjaar.
Genis was in Julie 2019 op ‘n toer in Namibië saam met die Country-sangers, Dennis East en Billy Forrest, toe sy verkoue- simptome begin kry het.
Sy het gedink dit is net ‘n verkoue wat sou oorwaai, maar teen Augustus 2019 het sy nog slegter gevoel. Sy het tydens ‘n optrede by ‘n vroue-oggend aan die einde van Augustus so erg begin hoes dat sy nie verder kon sing nie.
Sy is in September met brongitus gediagnoseer en antiobiotika voorgeskryf, maar was daarna steeds nie beter nie.
Haar lyf was seer en sy het gesukkel om asem te haal.
Sy is terug dokter toe en hy het haar vir longontsteking in die hospitaal laat opneem.
Sy is op suurstof geplaas en die dokter het toetse vir verskeie variasies van die koronavirus (nie Covid-19 nie) laat doen en een van hulle het positief teruggekeer.
Genis se stem was vir ‘n hele maand weg waartydens sy glad nie kon praat nie. Sy was in isolasie in die hospitaal gehou.
X-strale het later getoon dat haar diafragma ‘n groot skeur in gehad het en veroorsaak het dat haar maag en kolon op haar linkerlong gelê het en daaraan vasgegroei het.
Dit het veroorsaak dat haar linkerlong platgeval het.
Daar was ‘n gat van 11cm lank in haar diafragma en sy moes ‘n noodoperasie ondergaan, maar sy moes eers 14 dae wag dat dié variant van die koronavirus oorwaai.
Genis is uiteindelik op 26 September 2019 geopereer en dié operasie om haar diafragma reg te maak, het agt ure geduur.
Haar diafragma-spier was egter reeds so beskadig dat die dokters dit nie kon heg nie en hulle het dus gaas oor die gat gesit.
“Dit is hoekom die dokters gesê het ek sou nooit weer kon sing nie,” het Genis gesê.
“As hulle die diafragma se spier heg, kan die lug wat ‘n mens gebruik om te sing, nie ontsnap nie, met die gaas sou dit kan ontsnap.”
Ná die operasie moes Genis vir 11 dae in die intensiewe sorg-eenheid van die hospitaal bly.
In dié tyd was Genis onder sedasie en het nie geweet wat om haar aangaan nie.
Sy moes drie keer bloedoortappings kry terwyl sy in die hospitaal was.
Een van dié kere was dit nadat sy flou geval het toe sy na die gewone saal oorgeplaas is en badkamer toe wou gaan.
“Ek het my kop oopgeval en ek weet nie hoe het ek tot by die knoppie gekom om dit te druk om die suster te roep nie,” het sy vertel.
Sy het toe ook baie bloed verloor omdat sy die pypies wat in haar hoofslagaar in haar nek was uitgehaal het om badkamer toe te gaan.
Sy was bykans 40 dae in die hospitaal en die herstelproses nadat sy ontslaan is, was ook ‘n groot uitdaging.
“Ek was meer as een keer in trane tydens my fisioterapie en dit was moeilik, jy raak net so moeg en uitgeput.”
Sy het ook terapie vir haar stem gekry en moes asemhalingsoefeninge doen.
“Ek moes van voor af leer hoe om my stem te projekteer en met minder asem en minder volume.”
Dit het goed gegaan met Genis tot Maart verlede jaar toe sy ‘n terugslag gekry het.
Sy het vir onderskeidelik 10 dae en sewe dae weer in die hospitaal beland met diarree en slukprobleme.
Genis moes vir ‘n paar maande op ‘n vloeistofdieët gaan omdat sy verstik het as sy vaste kos probeer eet het.
“Dit is wat ek oorgehou het van die operasie en ek sukkel nou met sooibrand wat nooit voorheen die geval was nie.
“Ek is egter dankbaar dat ek weer kan sing en optree as daar nie ‘n inperking is nie.”
Intussen sit Genis nie stil nie en is tans betrokke by ‘n radiostasie naamlik, Ons Radio, wat belangstellendes by Google Play Store op hul selfone kan aflaai.
Daar sal vanaf die begin van Februarie elke Sondag ‘n Gospel Country-musiekprogram op dié radiostasie uitgesaai word.
Sy wil mense bemoedig en het gesê almal is nie in dieselfde bootjie nie, maar almal gaan deur dieselfde Covid-19-storm.



