Local newsNews

Marais-egpaar van Vrede sterf kort na mekaar

Oom Dave het op byna 86-jarige ouderdom nog geskiet en sowel hy as tannie Annatjie was gewaardeerde lede van die Edelvalk-tak van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewarings vereniging.

Oom Dave en tannie Annatjie Marais van Vrede is oorlede.

Volgens inligting, is tannie Annatjie verlede Maandag oorlede en oom Dave Saterdagoggend.

Oom Dave is verlede Dinsdag in ‘n hospitaal op Bethlehem opgeneem.

Die Standerton Advertiser was in die bevoorregte posisie om afsonderlike onderhoude met albei in September verlede jaar te voer.

Oom Dave het op byna 86-jarige ouderdom nog geskiet en sowel hy as tannie Annatjie was gewaardeerde lede van die Edelvalk-tak van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging.

Dié plaasseun van De Aar se studeerkamer op die plaas het van sy prestasies getuig.

“Jy’t skaars begin loop, dan leer jou pa jou om met die windbuks te skiet,” het oom Dave vertel.

Oom Dave het tannie Annatjie na hul troue in 1955 touwys in dié sport gemaak en ander skuts gementor.

“Dit is so ‘n groot verlies,” het Edelvalk-tak gesê.

“Hy het absoluut ‘n nalatenskap gelaat.”

Stoffel Bester het op Maandag 1 Februarie oom Dave soos volg onthou:

“Oom Dave was vir ons ‘n inspirasie, motivering en voorbeeld van hoe ‘n skut duisend moet wees.

“Hy het in die kort rukkie wat ek hom geken het, my gewys hoe om ‘n ware heer op die baan te wees.

“Oom Dave het boekdele se kennis en ervaring met enige iemand gedeel wat hom iets sou vra.

“Daar was ook ‘n hele klomp staaltjies wat hy op die baan gedeel het, wat die lagspiere geprikkel het.

“Ons gaan Oom voorwaar mis.”

Die Dave Marais-uitdaagbeker het ook tot stand gekom waar elke skut se gemiddelde tellings oor die jaar ‘n voorgee bepaal het.

Tannie Annatjie se onderwysloopbaan het oor sowat 50 jaar gestrek.

Benewens orrelbegeleiding in die kerk, was haar trekkklavier by partytjies en musiekaande die trekpleister.

Sy het haar ook as sakevrou op Vrede gevestig. Oom Dave en tannie Annatjie word oorleef deur twee seuns, vyf kleinkinders en sewe agterkleinkinders.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button