Ds. Riaan Botha van Standerton verhuis na Lydenburg
Hy het skouer aan die wiel hier ter plaatse gesit om die kombuis van sowel die Hervormde Kerk, as die Kosmos Aftree-oord, industrieel oor te laat doen om te voldoen aan die spesifieke vereistes by sulke instellings.
Die meubelvervoermense staan gereed vir ds. Riaan Botha van die Hervormde Kerk op Standerton se uittog na Lydenburg.
Ds. Botha het vir nege jaar die herdersrol in sy 35-stuks gemeente vertolk en is geen groentjie vir die omgewing waar hy nou forel gaan vang nie.
Steelpoort, met sy boere- en myngemeenskap, kan ook op die curriculum vitae afgetik word.
Dié oud-leerder van Hoërskool Pietersburg het in die middel-negentigs sy teologiese studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi en die eerste gemeente wat hom beroep het, was sommer op ons voorstoep, Morgenzon en Breyten.
Ook het die Afrika-kontinent sy indrukke gelaat na agt jaar in Kitwe, Zambië, op die koperbelt.
“Dit was ‘n Afrikaanse gemeente met boere en mynwerkers,” het hy gesê.
“Ek was nog altyd in dieselfde wêreld.”
Met sy Toyota-bakkie het hy al die dorpe en stede bedien.
“Ek ry nog steeds ‘n Toyota-bakkie,” het die dominee vertel, met sy humorsin wat die oorhand gekry het.
Een verskil wat egter uitgelig is, was dat die Zambiese gemeente nie eienaarskap van hul gemeente geneem het nie, aldus ds. Riaan.
Op sobere noot is stabiele gemeenskappe soos Morgenzon, Steelpoort en Standerton beskryf as gemeentes waar lidmate eienaarskap neem.
Die mense in Zambië wie se kontrakte hernu was, het nie vir kontinuïteit gesorg nie.
Hy is deeglik gebrei in Kitwe se munisipale dienste se agteruitgang en het beurtwater en beurtkrag aan eie bas gevoel.
“Ek het eers teen laat die aand water gehad.”
“Dit het my ‘n heel ander perspektief op die lewe gegee.”
Ds. Riaan het beklemtoon dat mense in so ‘n wêreld werklik vir mekaar omgee.
Maak geen fout nie, die Hoëveld het ‘n groot indruk op hom gelaat en hy is deeglik bewus van die plattelandse krisis waar jongmense stede toe verhuis en as’t ware ‘n vakuum agterlaat.
“Die oomblik as kinders studeer, sien hulle nie meer vir hulself ‘n toekoms op die platteland nie.”
Hy het ook verwys na die Afrikaner wat baie klem op akademiese opheffing lê om ‘n toekoms te verseker.
Ds. Riaan het ruiterlik beken dat kamp en jag sy ‘vices’ is.
Botswana, uiteraard Zambië, Zimbabwe en Namibië is platgereis en groot buffels is platgetrek.
Moontlik kwalifiseer hy as ‘n smulpaap want hy hou van ingewikkelde kos en koester goeie herinnering aan die huishoudkunde standaarde wat by Morgenzon Landbou Akademie gestel word.
Hy het skouer aan die wiel hier ter plaatse gesit om die kombuis van sowel die Hervormde Kerk, as die Kosmos Aftree-oord, industrieel oor te laat doen om te voldoen aan die spesifieke vereistes by sulke instellings.
“Ek gaan dit op Lydenburg ook doen om so gou moontlik ‘n goeie produk daar te stel.
“As dit maklik en gerieflik gemaak word, is die eindproduk beter.”
Ds. Botha is ‘n redelike bekende gesig al langs Bergstraat af met sy oggendstappery, met sy twee honde, wat ook met jagtogte aan sy sy is.
Hy het op skool destyds in Polokwane aan naellope en hekkies deelgeneem, provinsiaal presteer en daardie spoed is op die rugbyveld aangewend wanneer hy as vleuel uitgedraf het.
Ten slotte het die vraag of hy enige boodskap aan Standertonners wil gee, dié reaksie uitgelok;
“Ek verlaat die dorp glad nie oor die slaggate nie, ek het ‘n Ph.D daarin.”



