Reënweer maak paaie bykans onbegaanbaar op Standerton
Die gewone slaggate wat op motoriste wag, het by die kruising met Krugerstraat na die swaar reën, ’n voertuig laat vasval.
Paarlstraat op Standerton is nie juis ‘n pêrel in die infrastruktuurhalsnoer nie.
In die blok tussen Mbonani Mayisela- en Burgerstraat verkrummel die teer plek-plek.
Die gewone slaggate wat op motoriste wag, het die afgelope week by die kruising met Krugerstraat na die swaar reën, ‘n voertuig laat vasval.
Taxibestuurders onderweg na die Standerton Hospitaal in Krugerstraat moet hul ry ken met die afdraai.
All Star Towing Services het ook gemaan dat bestuurders dit liefs moet vermy omdat voertuie vasgeval het.
Volgens inligting, was daar Vrydag ‘n kabelfout by dié kruising, wat elektrisiteitsvoorsiening onderbreek het.
Die Standerton Advertiser het die afgelope week onder die indruk van bestuur in gietende reën gekom.
‘n Boom het dwarsoor die pad gelê toe probeer is om Bergenheim-woonstelle te bereik.
‘n Inwoner het sandsakke benodig toe die water in die kompleks begin instroom het.
SuperSpar in Princess-straat het op Vrydag 5 Februarie reeds sandsakke in gereedheid by die ingang gehad.
Dié supermark se personeel het by ‘n vorige geleentheid water met besems uitgevee.
Beyers Naudé, hoofstraat, sorg ook vir sy kwota uitdagings vir inwoners wat Kosmos- en Florapark wil bereik.
Bogenoemde is slegs ‘n klein gedeelte van die middedorp en die roetes na Meyerville en Sakhile is nie aangedurf nie.
‘n Beampte van Kasselman Veiligheidsdienste het gesê dat daar nie ‘n straat, sonder slaggate, met ligte wat werk, op die dorp is nie.



