Johan en Beula Viljoen van Standerton groet die gemeenskap
“Van die vroue het destyds nie eens ’n kam besit nie omdat hulle voor werk by die salon opgedaag het.”
Die verkoopbordjie op die sypaadjie in dié boomryke Von Bachströmstraat dui op die vertrek van die Viljoens, Johan en Beula, na Newcastle.
Hulle gaan in ‘n gerieflike woonstel op die erf van hul dogter, Stephani en haar man, Jurgens intrek, met ‘n binnehof wat hul van die huis skei.
Die vier katte gaan natuurlik saam.
Dié egpaar se seun, Cobus en sy Skotse vrou, Deborah, is oor die water en Cobus, ‘n perdeteler, werk as ‘n projekbestuurder in Wes-London en Deborah neem gereeld deel aan ‘dressage’ in die ring.
“Ons kleindogter is net so gek oor die perde en kry die eiergeld van die hoendertjies,” het Johan verduidelik.
Johan en Beula is aan die pak met die bokse en ‘bubble wrap’ uit ‘n huis, met ‘n kelder en drie stoorruimtes, waar hul vir 27 jaar gebly het.
Om hulle werkesels te noem, is geen oordrywing nie want op een stadium het hulle die plaas, die restaurant, werk by die hospitaal en werk as haarkapper gelyktydig behartig.
Johan, gebore in Germiston maar getoë in Kemptonpark, het kort na sy tegniese opleiding as haarkapper by die Ou Witwatersrandse Kollege hom op Standerton gevestig, terwyl Beula se pa-hulle Standerton toe getrek het.
Maar wat is nou eintlik hul nering, kan jy vra?
Johan bedryf reeds sy salon vir jare van die huis af en Beula het haar as verpleegsuster bekwaam en haar later, meer spesifiek, op diabetesbehandeling toegespits.
‘n Soektog destyds na ‘n administratiewe pos by Standerton Hospitaal het vir me. Viljoen na verpleegster verander.
“Ek het nog nooit teruggekyk nie,” het Beula gesê.
“Dit was ‘n absolute Godsbestiering.”
Dr. Gerhard Herbst het haar klaarblyklik met die hand uitgesoek vir die werk by die dokterspraktyk.
‘n Klant wat tusendeur opgedaag het vir Johan, het nie die onderhoud gekortwiek nie, want Beula kon haar man se haarkappery opsom.
“Die klante sê daar is min mense wat jou hare doen dat dit na ‘n week nog lyk asof dit gedoen is,” het sy gesê.
Dié salon het klokslag voor Kersfees en Nuwejaar deure om 4vm geopen en ander dae was dit 6vm.
“Van die vroue het destyds nie eens ‘n kam besit nie omdat hulle voor werk by die salon opgedaag het.”
Hulle het die jong vroue sien oud word, en in Beula se woorde ‘nou is ons oud’.
“Daardie ‘tannietjies’ het destyds almal gewerk en familie geword.”
Hulle het op die plaas Leeuspruit, op die Volksrust-pad, hoofsaaklik met skape, ‘n paar beeste en varke geboer, voordat dorp toe verhuis is.
Ook maar baie getrek in ag genome die salon, wat ook vier keer op ‘n ander plek was.
Albei was by die spyseniering betrokke, eers in ‘n restaurant in Kerkstraat en later vir privaatfunksies.
Wanneer was daar dan tyd om te gaan slaap?
“In die restaurantwese het ek soms gewonder of dit die son is wat ek sien opkom of ‘n straatlig wat brand,” aldus Johan.
Een geleentheid kort na die restaurant teruggekoop is, het kosbare herinneringe losgemaak toe sowat 30 mense, deftig uitgevat, aangesit het.
Daar is later gereedgestaan by die Eskom-saal en Standerton Stadsaal.
“Daar kon die lekkerste geregte wees en as ons by die huis kom, wil Johan ‘n ‘peanut butter’-broodjie hê,” aldus Beula.
Seekos en steak bly nou die gunstelinge.
Gelukkig was daar die St. Lucia-vakansies as die woonwa ingespan is om die kabeljoue van ‘n boot af in te katrol.
Uiteraard bly die verlange groot na hul mense oorsee en ‘n hoogtepunt vir Beula was die geboorte van haar kinders en drie kleinkinders.
Die Viljoens het nie nagelaat om die inwoners vir die jarelange ondersteuning te bedank nie.
“Ons gaan die mense van Standerton mis.
“Die dorp was goed vir ons.”



