Trichardt-legende, Danny Hanger, sterf
Man sal onthou word as ’n goeie pa en familiemens.
TRICHARDT – Mnr. Dannyboy Hanger (85) is op Donderdag, 4 Februarie dood.
Hy het op 17 Januarie ‘n ligte beroerte gehad en geleidelik agteruit gegaan.
Sy dogter, me. Rochelle Koekemoer, wat ‘n suster by Mediclinic Highveld is, het gesê hulle het Donderdagoggend die ambulans geskakel toe haar pa verder agteruit gegaan het, maar hy het gesê hy wil nie hospitaal toe gaan nie of in die ambulans klim nie.
“Ons het toe geweet sy tyd is min en my suster was ook reeds oppad na Trichardt vanaf Kaapstad,” het me. Koekemoer gesê.
Volgens haar is mnr Hanger omstreeks 11.10vm dood.
Hy word oorleef deur sy vrou, me. Betty Hanger (85), sy twee dogters, me. Koekemoer en me. Mercia van der Merwe, sy seun mnr. Dannyboy Hanger en ses kleinkinders.
Mnr. Hanger is op Woensdag, 10 Februarie vanuit die N.G. Kerk op Trichardt begrawe en sy suster, me. Ouida Venter (78) en broer mnr. Clive Hanger (68) het ook die begrafnis bygewoon.
Me. Venter vertel dat sy en haar twee broers, mnr. Hanger en mnr. Clive Hanger, op Trichardt grootgeword het en in die Kliphuis, wat deesdae ‘n onderneming is wat teëls verkoop, gebly het.
Al drie mnr. Hanger se kinders het ook op Trichardt grootgeword en skool gegaan en van sy kleinkinders woon steeds in die omgewing.
Mnr. Hanger het aanvanklik in die familie-onderneming, wat destyds as die ‘Hanger Trading Store’ bekend gestaan het, gewerk.
Hy het vir 30 jaar saam met sy ouers in dié onderneming gewerk.
Hy het later as makelaar en distriksbestuurder vir Old Mutual op Evander en Secunda gewerk.
Hy het ook deeltyds geboer saam met me. Hanger wat op ‘n plaas grootgeword het en hom alles van die boerdery geleer het.
Die egpaar het die plaas Theunis, naby Charl Cilliers, besit en het vir 61 jaar in dieselfde huis op Trichardt gewoon.
Mnr. Hanger het by Laerskool Trichardt en Hoërskool Hoogenhout skoolgegaan en was ‘n uitblinker op die sportveld.
Sy suster, me. Venter, onthou hoe hy gereeld die victor ludorum-trofee vir atletiek gewen het.
Hy het aan die items wat destyds 100 treë, 220 treë en 420 treë genoem is, deelgeneem.
Hy het ook uitgeblink in gimnastiek en rugby en het destyds vir die Suidoos-Transvaalse rugbyspan op die veld gedraf en het vir drie jaar in Hoogies se eerste rugbyspan gespeel.
Mnr. Hanger het ná skool 10 jaar lank klubrugby gespeel en sy suster en dogters het gesê baie mense sal hom onthou vir sy stywe handdruk.
Hy het ook gereeld mans-vriende en jonger seuns uitgedaag vir ‘n resies om te hardloop of vir ‘n armdrukkompetisie en hy het hulle altyd geklop.
“My pa was baie betrokke in die gemeenskap en het in die 80s as raadslid en bestuurkomiteelid op die stadsraad gedien,” het me. Van der Merwe gesê.
Hy was ook vir jare ‘n diaken en later ‘n ouderling in die kerk en het op die bestuursraad gedien by Laerskool Trichardt en Hoërskool Secunda.
Me. Koekemoer het gesê haar pa was ‘n geliefde en spesiale man en hy was goed vir almal.
Sy twee dogters en suster sal hom onthou as iemand wat altyd geduldig was, baie integriteit gehad het en iemand wat ‘n familieman was.
“Hy was ‘n baie goeie man vir my,” het me. Hanger gesê. Haar twee dogters onthou dat hul pa gereeld vir hulle ma blomme gekoop het en gehelp het met allerhande takies in die huis.
“Hy was ‘n man na aan God se hart,” het me. Koekemoer gesê.
Mnr. Hanger se jarelange vriend, mnr. Koos Kruger, het die begraafplaas op Trichardt laat skoonmaak en die gras vir sy begrafnis gesny.
Die Hanger-familie het almal wat die begrafnis bygewoon het, bedank asook almal wat geskakel het of boodskappe gestuur het.
Me. Koekemoer het gesê: “My pa het sy finale wedloop afgelê op aarde en die wenstreep bereik.”



