Local newsNews

Secunda-prokureur reik uit na behoeftiges

Raak betrokke by projek deur kos te skenk.

SECUNDA – Me. Adri van Schalkwyk-Le Roux, plaaslike prokureur, se hart vir mense het haar laat besluit om gedurende die inperkingstyd verlede jaar ‘n projek te begin om behoeftiges te help.

“Ek het tydens die inperkingstyd besef hoeveel mense daar is wat hul werk verloor het of kleiner salarisse verdien weens Covid-19,” het me. Van Schalkwyk-Le Roux gesê.

Sy het onder haar vriende en kliënte, kos ingesamel waarmee hulle sowat ‘n duisend behoeftige mense maandeliks op Secunda gevoer het.

“Ons het spesifiek gekyk na produkte wat nie-bederfbaar is en die kospakkies daarmee opgemaak.”

Hulle het gekyk na resepte van byvoorbeeld, herderspastei en het dan soja en Smash bygevoeg.

Daar is resepte saam met die kospakkies gegee.

Hulle het ook onder andere vars vrugte, brood en bestanddele vir macaroni-en-kaas in die kospakkies gesit.

“Dit was vir ons belangrik om die pakkies mooi te verpak sodat dit vir die mense kon voel of hulle ‘n geskenk kry eerder as ‘n skunking.

Me. Van Schalkwyk-Le Roux en haar span pak vanjaar weer so ‘n projek aan en hulle gaan binnekort die kospakkies opmaak.

Sy en haar man, mnr. Hannes le Roux, woon al 17 jaar op Secunda.

Me. Van Schalkwyk-Le Roux het op Koffiefontein in die Vrystaat grootgeword en ná skool regte aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein studeer.

Sy het ná haar studies vir drie jaar op Caledon in die Overberge gewerk waar sy haar man in die hof ontmoet het.

Mnr. Le Roux het op dié dorpie vir die opposisie-prokureursfirma gewerk.

“Ons het Vrydae soos kat en hond in die hof baklei en naweke saamgekuier,” het me. Van Schalkwyk-Le Roux vertel.

Die paartjie het na Secunda verhuis toe mnr. Le Roux ‘n werk in Sasol se regsafdeling aanvaar het en me. Van Schalkwyk-Le Roux het eers vir Vos, Viljoen en Becker Prokureurs op Secunda en later vir Geldenhuys Ing Prokureurs gewerk voordat sy haar eie prokureursfirma in 2011 begin het.

Dié firma het op Maandag, 22 Februarie, hul 10de herdenking gevier.

Me. Van Schalkwyk-Le Roux het in 2012 haar grondgebied vergroot en ‘n eiendomsagentskap oorgeneem.

Sy was sedertdien by ‘n paar eiendomsagentskappe betrokke voordat sy in 2018 haar eindomsagentskap by haar prokureursfirma ingelyf het.

As me. Van Schalkwyk-Le Roux nie werk nie, hou die egpaar se vyfjarige dogtertjie haar besig om bal te skop of om blokkies op te ruim.

In haar vrye tyd stap sy graag. Sy en haar man het al die Otter- en die Walvis-staproetes aangedurf en hulle reis graag.

Belangstellendes wat me. Van Schalkwyk se gemeenskapsprojekte wil ondersteun of wil help of betrokke wil raak, kan haar kantoor skakel by 017 631 4148.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button