Secunda-man ontslaan ná 77 dae in hospitaal weens Covid-19: rehabilitasie lê nog voor
Egpaar vier 27ste huweliksherdenking in hospitaal.
TRICHARDT – Mnr. Jannes van der Merwe (51), ‘n menslike hulpbronne-bestuurder by Sasol, is op Donderdag, 4 Maart, ná 77 dae in die hospitaal met Covid-19, ontslaan.
Hy en sy vrou, me. Marlize van der Merwe, het op Vrydag, 8 Januarie, hul 27ste huweliksherdenking in die hospitaal gevier.
Mnr. Van der Merwe was toe reeds 22 dae in die hospitaal waarvan 14 dae in die intensiewe sorg-eenheid van die Mediclinic Highveld.
Hy het in Desember vir sy vrou gesê hy voel nie lekker nie en sy het hom dokter toe geneem.
Me. Van der Merwe het self ook later siek gevoel en albei het op Donderdag, 17 Desember vir ‘n Covid-19-toets gegaan en positief getoets.
Mnr. Van der Merwe het die Vrydag (18 Desember) benoud begin voel en me. Van der Merwe het hom na die Mediclinic Highveld geneem waar hy opgeneem is.
Me. Van der Merwe moes in isolasie by die huis bly.
Mnr. Van der Merwe se ma, me. Elsie van der Merwe (81), het in dieselfde week dat haar seun in die hospitaal opgeneem is, ook begin sleg voel en is ook positief vir Covid-19 getoets.Sy is op 21 Desember in die hospitaal opgeneem.
Albei het longontsteking weens die Covid-19 opgedoen.
Me. Van der Merwe (snr) het egter die Dinsdag (22 Desember) haarself uit die hospitaal ontslaan.
“My skoonma ly aan demensie en raak soms baie deurmekaar en vergeetagtig,” het me. Van der Merwe gesê.
Die Van der Merwe-egpaar se dogter, me. Roné van der Merwe, wat in dié tyd in Knysna met vakansie was, het vroeër teruggekeer om haar ma en ouma te versorg.
Me. Marlize Van der Merwe het egter ook slegter begin voel, was kortasem en het na die noodgevalle-eenheid van die hospitaal gegaan waar sy ook met longontsteking weens Covid-19 gediagnoseer is. Sy moes ook in die hospitaal opgeneem word.
“Ons was vir sowat 10 dae saam in die hospitaal, maar ons kon mekaar glad nie sien nie,” het me. Van der Merwe vertel.
Intussen het me. Roné van der Merwe ook positief vir Covid-19 getoets en het toe by haar ouma wat tuis was, gebly om haar te help.
Ouma is later in Desember weer in die hospitaal opgeneem, maar ‘n dag later het sy haarself weer ontslaan.
Sy het egter kort hierna in haar woonstel inmekaar gesak. Sy is op 27 Desember vir die derde keer in die hospitaal opgeneem en dié keer het hulle haar vasgemaak aan die bed sodat sy nie weer kon wegloop nie.

Mnr. Van der Merwe is op 26 Desember na die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal oorgeskuif.
Sy ma en vrou was toe saam in die Covid-19-saal vir ‘n dag voordat me. Marlize Van der Merwe ontslaan is.
“Sy het sleg gelyk, dit was erg om my skoonma so te sien,” het me. Van der Merwe vertel.
Die bejaarde me. Van der Merwe was hierna nog vir twee weke in die hospitaal en weens Covid-19-regulasies kon niemand haar besoek nie.
Me. Van der Merwe was egter toegelaat om haar man elke drie dae te sien.
Die hospitaal het haar op oujaarsdag (31 Desember) geskakel en gesê mnr. Van der Merwe is op ‘n ventilator.
“Ek het vir hulle gevra wat dit beteken en hulle het gesê: ‘Ons hou hom aan die lewe’,” het me. Van der Merwe gesê.
Vriende en familie het vir mnr. Van der Merwe gebid en me. Van der Merwe het besef dit sou net ‘n wonderwerk wees wat mnr. Van der Merwe kon red.
“Ons as gesin het oujaarsaand ‘n vuur buite gemaak, net soos wat Jannes altyd daarvan hou en het lofliedere gesing en vir my man gebid,” het me. Van der Merwe gesê.
Mnr. Van der Merwe het weer beter geword en op 1 Januarie sy oë oopgemaak.
“Dit was die begin van ‘n journey waar dit op en af gegaan het.”
Die hospitaal het haar op 5 Januarie weer geskakel en gesê sy moet dadelik hospitaal toe gaan, want dit gaan nie goed met haar man nie.
“Sy lewe het aan ‘n draadjie gehang, maar ons het op oujaarsaand al vir Jannes vir die Here gegee en het besluit ons sal aanvaar wat ookal die uitkoms sou wees,” het me. Van der Merwe gesê.
Mnr. Van der Merwe het twee keer self in die hospitaal sy pype uitgetrek terwyl hy onder verdowing was.

Ná baie gebede, trane, blydskap en emosionele oomblikke, is mnr. Van der Merwe uiteindelik op 4 Maart ontslaan en oorgeplaas na ‘n rehabilitasiesentrum in Johannesburg waar hy weer sal moet leer om te loop, om regop te sit en om te staan.
“Sy gemoed is nou goed, maar hy was baie emosioneel, bang en onseker toe hy ontslaan is,” het me. Van der Merwe gesê.
Ouma is nou gesond van Covid-19, maar sy is met hartversaking gediagnoseer en het al ‘n rukkie ‘n voltydse versorger, maar die egpaar wil haar nou by Terra Nova-aftreeoord laat woon omdat daar glo binnekort ‘n afdeling vir verswaktes gaan oopmaak.
Dit was vir haar ook ‘n emosionele oomblik toe sy vir die eerste keer in weke haar seun in die hospitaal kon besoek en hom kon groet.
Me. Van der Merwe het al die personeel van Mediclinic Highveld vir hul professionaliteit, vriendelikheid, geduld en goeie diens bedank.
Mnr. Van der Merwe het in sy siekbed in die hospitaal met sy dogter gereël om op die egpaar se huweliksherdenking vir sy vrou twee koppies met die woorde ‘His’ en ‘Hers’ daarop en twee teesakkies te gee.
“Hy het gesê die eerste ding wat hy wil doen as hy uit die rehabilitiasiesentrum kom, is om saam met my te sit en ‘n koppie tee te drink.
“So as hy huistoe kom, sit ek die teekoppies reg.”
VIDEO: Me. Elsie van der Merwe (81) sien haar seun, mnr. Jannes van der Merwe (51), vir die eerste keer in maande in Mediclinic Highveld nadat hy met Covid-19 gediagnoseer is.



