Lone Buddys op Standerton probeer om ’n verskil in mense se lewens te maak.
Die komitee sit om ’n tafel en besluit watter projekte aangepak gaan word, waaronder ’n honde- en katskou op 27 Maart, betrokkenheid by die Kansa Shavathon op 20 Maart, ’n motor- en motorfietskou einde April, asook uitreik na mense in nood, wanneer die behoefte bestaan.
Net na die glimmende, swart Kawasaki 1400 staangemaak is, die bestuurder sy helm afgehaal het, kon ‘n man wat klaarblyklik enigiets met ‘n enjin kan regmaak, sy storie begin vertel.
Mnr. Rudi Hahn, in motorfietskringe bekend as die president van Lone Buddys op Standerton, het rustig toegelaat dat in sy verlede gedelf word.
Dié ambagsman het destyds by Olifansfontein sy kwalifikasie voltooi en daarna het die verpligtende weermagjare gevolg.
As volluitenant het hy die grensoorlog eerstehands beleef met die troepe wat, sover as onder meer Luanda en Ruakana, die verdedigingslinies opgestel het.
Die ‘Vossie’ kon ‘n hele kompanie vervoer, seiners, drywers, ‘n kok.
‘n Dag voor sy terugkeer van Grootfontein, na twee jaar en gereed om uit te passeer, het die noodlot ‘n rol gespeel.
“Ons het sewe ouens verloor,” het Rudi vertel.
“Om jou makkers ‘n dag voor die tyd te verloor, gaan sit nie in jou klere nie.
“Dit was ‘n lekker twee jaar, maar jy wil dit nie oor hê nie.”
Die kameraderie is egter ‘n goeie herinnering.
Rudi het kontak met meeste van die mense wat saam met hom in die bosoorlog geveg het, verloor.
Terug in civviestraat, het sy beroep gewag.
“‘n Mens gaan maar aan met jou lewe,” het hy filosofies opgemerk.
‘n Wateronderbreking op Standerton, soos wat inwoners oor ‘n naweek se voorland was, stem hom enigiets van melankolies tot woedend.
“Die huidige verval bring herinneringe aan wat in die verlede opgeoffer is.”
Rudi het twee dogters, Mioshia en Gretchen, twee skoonseuns en byna amper twee kleinkinders.
Gretchen wat by Eskom werk, verwag tans hulle eersteling, terwyl Mioshia ‘n tweejarige seuntjie het.
Me. Debbie Bam en mnr. Paul Bester het Lone Buddys sowat sewe jaar gelede gestig en woon nou op Lephalale (Ellisras).
“Ek het altyd saam met die motorfietsryers gegaan en dit was lekker om ‘n klub te stig, hoewel baie prosedures voor registrasie gevolg moet word,” het hy ook gesê.
Lone Buddys, soos menige motorfietsklubs in die land, het reeds maatskaplike werk in die gemeenskap gedoen.
Van ‘n motorwasgeleentheid vir jong Jason English, geldinsameling vir mnr. Jannie Scharneck, ‘n ouetehuisprojek met groot Kerskouse in Desember 2019 tot ‘n wintersprojek wat tans van stapel gestuur word.
“Ons wil komberse, mussies en bedsokkies aan die Kosmos Aftree-oord gaan oorhandig.”
Ook is ‘n verfskenking aan die ouetehuis gemaak. Die komitee sit om ‘n tafel en besluit watter projekte aangepak gaan word, waaronder ‘n honde- en katskou op 27 Maart, betrokkenheid by die Kansa Shavathon op 20 Maart, ‘n motor- en motorfietskou einde April, asook uitreik na mense in nood, wanneer die behoefte bestaan.
Rudi is reeds vier jaar aan die stuur van sake en die komitee wil ‘n tesourier en ‘road captain’ so gou moontlik verkies.
“Ons dink nie die pad behoort aan ons nie.”
Hulle was ook destyds Vereeniging toe met die Hoërskool Driehoek-loopbrugtragedie, waar vier leerders gesterf het en 29 beseer is.
“Dit is lekker om uit te reik na mense wat ‘n behoefte het,” het hy mee afgesluit.



