Local newsNews

Predikantsvrou op Standerton sorg vir etes vir leerders

Hearts4Standerton se sorgprojek by Laerskool Kalie de Haas is waar kinders daagliks ’n voedsame maaltyd gegee word.

Soos menige predikantsvrou, ken me. Santie Gericke die oppak en trek na ‘n nuwe dorp as jou eggenoot ‘n beroep aanvaar het.

Ds. Henk Gericke en Santie van die Evangelies Gereformeerde Kerk op Standerton het mekaar destyds, in die kerk, op Springs ontmoet.

“My bekering het onder sangbediening gekom,” het Santie vertel.

“Musiek praat met my.”

Dié dominee het sy praktiese jaar by die Springs-gemeente gedoen en na hul huwelik, is vir eers besluit dat sy ‘n halfdagpos moes oorweeg.

Die finansiële wêreld, spesifiek die bankwese, het vir 15 jaar haar vroeg uit die bed in die oggend gekry.

Santie het in verskeie afdelings gewerk en kon haar vaardighede slyp met lêeroudits, by die navraagtoonbank en telefoniese kliëntebystand.

“‘n Mens doen baie mensekennis op en in my dae was die kliënt alles,” het sy gesê.

Orkney met sy verarmde myngemeenskap het op die herderspaar gewag, voordat hulle na die Hoëveld verhuis het en Standerton hulle tuiste kon noem.

Hearts4Standerton se sorgprojek by Laerskool Kalie de Haas is waar kinders daagliks ‘n voedsame maaltyd gegee word.

Santie hou ‘n wakende oog oor dié projek.

“Die getalle het van tussen 20 tot 30 verlede jaar na vanjaar se 45 gestyg.”

Hearts4Standerton rol ook moue op by ander skole in die gemeenskap en soms by individuele gesinne.

Met voedseldiensbestuurdissiplines wat Santie onder die knie by die Technikon Pretoria gekry het, kry die leerders tydens pouse die geleentheid om vroeg te eet.

Die skoolkombuis met sy gasstowe en oonde leen hom gerieflik tot voorbereiding van maaltye.

“Ons bedien twee maal ‘n week ‘n bord gekookte kos.

“Daar is vleis, stysel, ‘n groen- of geel groente of slaai.”

‘n Vrug en joghurt word ook twee maal ‘n week voorsien.

Die impak van Covid-19 op die gemeenskap het uiteraard na die skool uitgekring.

“Die pandemie het ons hewig beïnvloed met families wat werksverliese beleef het.

“In een geval was drie gesinne genoodsaak om in een huis te gaan bly.”

Wat betref die invloed op die gemeente met ‘n sieletal van 110, was veral die seniorburgers bang om kerk toe te kom.

“Deur die genade het ons niemand verloor nie.”

‘n Uitdaging het op enige leraar gewag om boodskappe en preke by lidmate te laat uitkom.

“Meelewing en persoonlike kontak het skade gely.”

Die Gerickes het drie kinders, Sharlize (21), Jeandré (19) en Johlindie (13).

Sharlize het in pa se voetspore gevolg en studeer teologie by die kweekskool van die Evangelies Gereformeerde Kerk, met die famile wat bid en vertrou dat dié denominasie wel vroue eindelik op die preekstoel sal toelaat.

Jeandré het na sy studies by Hoërskool Schoonspruit op Klerksdorp besluit om ‘n vakleerlingskap in dieselwerktuigkunde te voltooi, en die jongste is ‘n leerder aan Hoërskool Standerton.

Ouma woon in by die Gerickes en skoonouers bly op ‘n plaas in die Vrystaat.

Dat ds. Henk nie eintlik grootgaan met braaivleisvure nie, gee vir Santie geen slapelose nagte nie.

“Kosmaak en kinders is my passie,” het Santie afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button