AfriForum se Secunda-tak hou vergadering
Belangstellendes kan maandelikse vergaderings bywoon.
SECUNDA – AfriForum het op Maandagaand, 15 Maart hul maandeliks vergadering by die Anker Kerk op Secunda gehou en mnr. Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Secunda-tak, het gesê die provinsiale department van water en sanitasie het Secunda onlangs besoek.
“Hulle het kom kyk na die grootste probleme op Secunda en ek het hulle na die begraafplaas geneem waar geen toilette werk nie en waar lopende water al twee jaar gelede weens gesteelde pype toegemaak is,” het mnr. Du Plessis gesê.
Die department het ook Evander se rioolwerke, waar die meeste toerusting buite werking is, besoek.
Mnr. Du Plessis het ook gepraat oor hoeveel slaggate, oop elektriese bokse en straatligte daar op Secunda, Evander en Trichardt is wat buite werking is en hy het gesê hy het dit reeds by die munisipaliteit aangemeld.
Me. Aranda Nel-Buitendag, raadslid vir die Vryheidsfront +, het oor Eskom en Randwater se skuld gepraat en gesê Govan Mbeki Munisipaliteit betaal net hul huidige skuld by dié twee instansies en geen agterstallige skuld nie.
Mnr. Du Plessis het gepraat oor die buurtwag van AfriForum en hoeveel patrollies hulle ry om die inwoners veilig te hou.



