Local newsNews

Arbeidsterapeut van Standerton slaan wanpersepsie oor beroep die nek in

"Ek glo daarin om kreatiwiteit by kinders aan te wakker want dis waar probleemoplossing begin.

‘n Arbeidsterapeut van Standerton gaan speel-speel om met kinders om hulle toe te rus vir die lewe, maar het beslis nie speels die wanpersepsie oor die beroep verwoord nie.

“Baie mense dink dat arbeidsterapeute met probleemkinders werk, wat geensins die geval is nie,” het me. Christien Smit gesê.

Die vreugde van die beroep nadat ‘n kind bewus geword het van die sluimerende potensiaal, kan nie oorbeklemtoon word nie.

“Wat wonderlik is, is daardie oproep jare later nadat iemand in ‘n professie uitgestyg het,” het sy gesê.

Dié plaasdogter van Cornelia se pa wou hê sy moes ‘n apteker word met die wiskunde, wetenskap en biologie op skool op Frankfort netjies in plek. Bloemfontein was waar Christien ‘n honneursgraad voltooi het.

“‘n Mens kies nie arbeidsterapie nie, dit kies jou,” aldus Christien.

“Daar word gepoog om ‘n kind so gou as moontlik onafhanklik te kry en verskeie tegnieke kan gebruik word om breinintegrasie te bewerkstellig.

“Moet nooit vir ‘n kind sê jy sal dit nie regkry nie, ‘n kind sal wys wanneer hy nie kan nie.”

Laasgenoemde gebeur maar bitter min.

Christien en haar man, Dirk het twee spruite, Anlomé en DS, wat albei by Stannies skoolgaan.

Ma is vas oortuig van die waarde van speel, klein DS sal sandput toe gaan en in ‘n erf waar drie honde, eendjies en hoenders is, het Anlomé ook kans om haar uit te leef.

Die mak hoender en voëlhok is binne die huis.

“Ek glo daarin om kreatiwiteit by kinders aan te wakker want dis waar probleemoplossing begin.

“Kinders leer deur te speel.”

Haar grootste frustrasie is wanneer kinders, sowel as grootmense, nie hul eie waarde raaksien en insien nie.

Moeders se betrokkenheid by hul kinders se lewens is vir haar ononderhandelbaar.

Christien se dag begin skuins na 4 in die oggend met een van die eerste koppie koffies en ‘n ontbyt van hawermout, eier, piesang en katjiebotter.

Toe haar kinders klein was, het sy nie praktiseer nie, maar tans huur sy ‘n klaskamer by Stannies.

Die onvermydelike onderwerp Covid-19 het ter sprake gekom. Die Smits het legkaarte gebou dat die biesies bewe.

“Die negatiewe van die inperking kan nou gesien word in kinders se motoriese vaardighede wat nie ontwikkel het nie.

“Skoolwerk het ook agteruit gegaan.”

Aan die positiewe kant was dit vir haar juis ‘n goeie leerskool om tot besinning gedwing te word oor wat werklik in die lewe van belang is.

Tuis eet die Smits saam aan tafel en ma eksperimenteer met disse, veral Franse cuisine, hoewel sy nie ongeneë is om pastageregte te maak nie.

Tussen tuinmaak, bak en brou geniet sy gesins- en familietyd, veral so oor Kersfees met die sibbe, skoonfamilie en ouers.

Christien glo ook nie aan enige ‘quick fix’ nie.

Sy is gewortel in haar geloof en het Paulus se brief aan die gemeente in Filippense 3 gebruik om haar lewensfilosofie te illustreer:

“Ek verbeel my nie dat ek alles het nie, maar een ding doen ek, ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button