Local newsNews

Bethal se Stinkie Serfontein sterf

Volgens haar het sy soveel by hom geleer. Hy het haar wêreldwys gemaak en dat dit iets is wat haar altyd sal bybly.

BETHAL – Mnr. Stinkie Serfontein (60) is verlede Maandag by sy werk aan vermoedelik ‘n bloedklont oorlede.

Hy was ‘n bekende in sportkringe en het veral in rugby en gholf uitgeblink.

Mnr. Serfontein was vir jare die skrumskakel van Bethal Rugbyklub se eerstespan.

Hy is op Bethal gebore en het aan Hoërskool Hoogenhout gematrikuleer.

Mnr. Serfontein was die verkoopsbestuurder van United Motors op Secunda se Pre-Owned Mercedes.

Hy was bekend vir sy kwinkslae en soos vriende hom beskryf het, “hy was baie funny sonder om funny te wees”.

Sy vrou, me. Sonja Serfontein, het aan Ridge Times gesê dat sy veral sy sin vir humor gaan mis.

“Hy het altyd ‘n antwoord op alles gehad.”

Sy het gesê hy het hulle altyd vermaak met staaljies oor sy jongdae.

Me. Serfontein het gesê dat sy hom altyd dankbaar sal wees omdat hy haar kinders aanvaar het en grootgemaak het.

“Hy het hulle liefgehad soos sy eie.”

Volgens haar het hy ‘n groot liefde vir mense en diere gehad, en natuurlik ook die gholfklub.

Sy stiefseun, mnr. Ryan Lombard, het gesê dat hy baie by hom van die lewe geleer het.

“Hy het my geleer hoe om ‘n man te wees.”

“Oom Stinkie het my net een keer ‘n groot pak slae gegee, en dit was nooit weer nodig nie,” het sy stiefdogter, me. Miché Lombard Maandag gesê.

Volgens haar het sy soveel by hom geleer.

Hy het haar wêreldwys gemaak en dat dit iets is wat haar altyd sal bybly.

“Hy was goed vir ons, al het hy soms self gesukkel, maar hy het seker gemaak dat sy familie gelukkig is.

“Die groot grapjas sal altyd by ons wees, dalk nie fisies nie, maar in gees. Ons gaan hom almal baie mis.”

Hy laat sy vrou Sonja, twee stiefkinders, Miché en Ryan, asook sy twee dogters, Tania en Twanette, uit sy eerste huwelik agter.

Mnr. Serfontein se roudiens vind vandag (Dinsdag 25 Mei) plaas by Bethal Gholfklub, onder leiding van ds. Cobus Manders.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button