Local newsNews

Elmari Greyling van Bethal versier haar koeke met ‘macarons’ en sjokolade

Skilder en koekversiering maak koekbakker rustig.

BETHAL – Om op koeke te versier en op koeke te skilder, is me. Elmari Greyling se gunsteling tydverdryf.

Sy gee glad nie om om ure agter die koekpanne of kospotte te bestee nie.

“Dit maak my rustig en is vir my soos ‘n uitlaatklep,” het dié bobaas-koekbakker gesê.

Haar nuutste kreatiewe baksels is ‘macarons’ ‘n Franse delikatesse wat uit ‘n skuimpiebasis wat vanuit eierwit, amandelmeel, strooisuiker, versiersuiker en voedselkleursel gemaak word.

Me. Elmari Greyling versier ‘n doopkoek.

Me. Greyling versier baie van die koeke wat sy bak met ‘macarons’ en haar eie tuisgemaakte sjokolade.

Sy het op Bethal grootgeword en aan Hoërskool Hoogenhout gematrikuleer.

Sy het ná matriek deur Unisa studeer en gespesialiseer in die ontwikkeling van kinders en jongmense.

Destyds was sy een van net 10 mense wat in dié rigting studeer het.

Een van me. Elmari Greyling se gunstelingkoeke wat sy al gebak het. (Foto: Verskaf)

Hul studiemateriaal is gestaak toe vliegtuie in 2001 in die bekende ‘Twin Towers’ in New York in Amerika vasgevlieg het. Me. Greyling se studiemateriaal moes vanaf Amerika kom en sy moes dus die rigting waarin sy wou spesialiseer, verander.

Sy het toe gespesialiseer in terapie vir weeskinders en kinders met spesiale behoeftes en het haar honneursgraad in dié rigting verwerf.

Me. Greyling het egter besluit om dié beroep vaarwel toe te roep toe die landswette rakende misbruikte kinders verander het en me. Greyling haarself nie meer in dié rol kon sien nie.

Sy het eers gekookte etes begin maak en dit verkoop en vir twee tydsgleuwe daagliks voorsiening gemaak.

Sy het 11 jaar gelede ook begin koeke bak vir spesiale geleenthede, van verjaarsdae tot troues, en sy het opgehou met die gekookte etes toe sy al hoe meer bestellings vir koeke begin kry het en nie meer kon voorbly nie.

Een van me. Elmari Greyling se gunstelingkoeke wat sy al gebak het. (Foto: Verskaf)

Die gogga om op ‘macarons’ ook te fokus, het haar in 2012 gebyt toe die bekende Buddy Valastro wat in die televisiereeks, Cake Boss, te sien was, die Good Food & Wine Show in Kaapstad besoek het.

“Daar was ‘n Franse sjef wat pasteie en allerhande ander Franse disse gemaak het,” het me. Greyling vertel.

“Hy het my nader geroep en een van sy ‘macarons’ laat proe en gesê dit is hoe dit moet proe.”

Me. Greyling het lank daarna nog gesukkel om haar ‘macarons’ te kry soos wat dit vandag lyk, en sy het selfs vir ‘n kursus in Pretoria gegaan om dit te leer maak.

“Dit is my trots en ek hou daarvan om nuwe dinge te probeer,” het sy gesê.

Een van me. Elmari Greyling se gunstelingkoeke wat sy al gebak het. (Foto: Verskaf)

Sy het die tyd by die huis tydens die landwye inperking weens die Covid-19 pandemie, gebruik om nuwe Franse nageregte en lekkernye te oefen.

Sy het toe vir die eerste keer ‘mille-feuille’ gemaak asook ander skeppings met haar ‘macarons’.

In haar vrye tyd skilder sy graag met olieverf en hou daarvan om kreatief te wees met die versiering van koeke.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button