Local newsNews

Gerda Büter van Standerton gaan onverskrokke die lewe tegemoet

Haar amp as voorsitter word oor die boeg geskeer van ordelike, nie-tydrowende vergaderings waar vroue die geleentheid kan geniet as ’n demonstrasie of twee ook plaasvind.

Me. Gerda Büter van Standerton se hande staan vir byna niks verkeerd nie.

As nuwe voorsitter van die Hoëveldstreek se VLU, is sy opgewasse om te brei en hekel of handvlyt en kunsnaaldwerk te doen, kosmaak uiteraard ook, maar een spesialiteit gee haar nie hoofbrekens nie.

“Ek doen nie naaldwerk nie,” het sy beslis gesê.

Eintlik is beskuitbak ook nie hoog op haar agenda nie want dis nie háár pot lensiesop nie.

Gerda is heel gemaklik om te eksperimenteer met geregte en was ‘n tyd gelede een van die 30 Kokkedore op nasionale televisie.

Sy en haar man Gerard wat verlede jaar as treinbeheeramptenaar by Transnet afgetree het, is reeds 41 jaar getroud.

Dié tydperk weerspieël ook haar verbintenis met die VLU.

Haar ouers het in die Kestell-distrik geboer en na matriek het sy by Standard Bank gewerk.

Die Büters se trouklokke het in Oktober 1980 op Kestell gelui.

“Tot vandag toe as die sneeubalblomme begin blom, word ek daaraan herinner dat die huweliksherdenking om die draai is,” aldus Gerda.

Hulle het vir meer as 14 jaar op Henneman gebly en toe die dogters redelik onafhanklik was, het Gerda haar hand aan marknavorsing gewaag.

Sy het vir ‘n nasionale bemarkings- en en mediahuis kilometers afgelê om huisvroue se voorkeure te bepaal.

“As ‘n vrou vir die derde keer dieselfde produk koop, vra ek net: is dit lekker?” het Gerda gesê.

“Dan gaan koop ek dit self.”

Sy het vier jaar gelede, na 24 jaar, by die maatskappy afgetree.

Nadat haar man ‘n oorplasing Standerton gekry het, het hulle hier kom woon en bly tans 6km uit op die Vrede-pad.

Die Büters se dogters, Anél en René, is lankal reeds uit die huis en die egpaar het drie kleinkinders, wat in skole op Standerton hul vir die grootmenswêreld voorberei.

Haar amp as voorsitter word oor die boeg geskeer van ordelike, nie-tydrowende vergaderings waar vroue die geleentheid kan geniet as ‘n demonstrasie of twee ook plaasvind.

Gerda het in 2017 haar visum gereedgekry en haar twee skoonsusters, Minka en Irene, vir drie weke in Holland besoek. Dit het ‘n affêre afgegee.

Die SAL-vlug het te laat vertrek en in Frankfurt aangekom, het sy die Lufthansa-vlug na Schiphol verpas.

“Dis Europa, niemand praat Engels nie.

“Ek het nie daaraan gedink om by die SAL-toonbank om hulp aan te klop nie.”

Met gebaretaal het sy oor die weg gekom.

Uiteindelik sou sy inderhaas op ‘n trein na Amsterdam beland, net betyds om ‘n Bachelorette van ‘n Franse meisie te aanskou.

“Op skool sou ons dié soort trein ‘n voëltjietrein genoem het.”

Amsterdam se aantal fietse het haar aanvanklik verstom.

“Daar was oues, nuwes, geroestes, maklik oor ‘n miljoen.”

Die skoonheid van die stad en die omgewing het haar bekoor met veral die groen wat kenmerkend is.

“Die groen in Nederland is soos ons groen vanjaar.

“‘n Mens trek in die somer altyd ‘n rok met moue aan want anders kry jou skouers koud.”

Gerda kon ‘n kerkdiens een Sondag volg en die liederere wat gesing is, het vir dié lidmaat van die N.G. Kerk nie vreemd op die oor geval nie.

Sy kon ook haar skoonma se 80ste verjaarsdag, hoewel vroeër gereël, bywoon.

Tussen besoeke aan ‘n orgideehuis, kersieplaas, kaasfabriek en museum of wat, het haar besoek ten einde geloop.

“Ek het vir my skoonsusters gesê ek sal alles proe, maar dis nie te sê ek sal alles eet nie.
“Die vis en ‘kiepe’ is baie lekker, maar vleis is peperduur.”
Die Büters gaan in Augustus Namakwaland se blomme opsoek en ‘n vakansie na Namibië word vir volgende jaar beplan.
“Mense moet nie vir my sê ek kan nie, dan doen ek dit,” het dié lewenslustige vrou in die onderhoud skertsend laat val.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button