Bethal se VLU-lede leer van blommerangskikkings
Die Bethal VLU-tak se volgende vergadering is op Dinsdag, 15 Junie.
BETHAL – Lede van die Bethal VLU-tak het onlangs hul beste items vir die jaarlikse VLU konferensie ingeskryf.
Hulle het nie ‘n fisiese konferensie vanjaar gehad nie weens Covid-19 regulasies, maar lede kon steeds hul items instuur vir beoordeling.
Die lede wat presteer het is me. Annette Greyvenstein wat ‘n toekenning vir haar gebak ontvang het, me. Nellie Louw wat ‘n toekenning vir haar borduurwerk ontvang het en me. Miemie Roos wat ‘n toekenning vir haar blommerangskikking ontvang het.
Die Bethal VLU-tak het op Dinsdag, 18 Mei vergader en me. Sophie Hugo het vir lede gewys hoe om ‘n saamgestelde protea vanuit mielieblaarblomme, blommetjies van toiletrolletjies en papierblomme te maak.
Me. Hugo het gesê ‘n mens moet eers die jonger mielieblare droog en dit dan natspuit sodat dit buigsaam is en nie breek nie.
“Dit is dan so sag soos lap en dan kan ‘n mens vilene daaraan vas stryk sodat dit soos ‘n plat lappie lyk wat jy dan kan buig en vorm soos jy wil,” het me. Hugo gesê.
“Geverfde blommetjies of vorms vanuit toiletrolletjies gee ‘n unieke element aan elke rangskikking.”
Die Bethal VLU-tak se volgende vergadering is op Dinsdag, 15 Junie om 1.30nm by die Bethal Kerk Oos-gemeente in Wichtstraat.
Belangstellendes is welkom om dié vergadering by te woon.



