ATKV Kosmosrandtak op Secunda wil leeskultuur skep
Ondersteun projek en skenk boeke wat in goeie toestand is.
SECUNDA – Die ATKV Kosmosrand-tak se nuutste projek is om ’n boekhuisie op Secunda op te rig.
Me. Tracey van Wyk, voorsitter van die Hoëveldrif se ATKV-tak, het onlangs een van dié boekhuises besoek en die gemeenskap op Secunda en die omgewing aangemoedig om ook betrokke te raak.
Met dié projek kan ondernemings die geleentheid kry om ’n boekhuisie te borg en ook hul name daarop te plaas.
Die ATKV Kosmosrand-tak benodig goeie leesboeke om dié projek te laat voortgaan en me. Van Wyk het die gemeenskap aangemoedig om boeke te skenk.
Die ATKV se doelwit is om onvlugting aan lesers te bied deur die boekhuisies.
“’n Boek ontsluit wêrelde en dit bied aan die leser oneindig baie moontlikhede en ’n ontsnappingsroete waar die leser vir ’n uur of so van sy realiteit kan vergeet,” het me. Van Wyk gesê.
Die ATKV Kosmosrand-tak skenk al vir jare bemoedigende leesstof aan die onkologie-afdeling by Mediclinic Highveld en het sodoende besluit om ook die boekhuisies op te rig.
“Daar is ’n groot behoefte aan lees in ons gemeenskap,” het me. Van Wyk gesê.
“Ons het nog altyd na kankerpasiënte uitgereik en ek het gesien hoe iets kleins soos ’n boek, baie vir mense beteken.
“Ons wou iets nuuts en vars probeer en ’n sentrale punt skep waar mense wat ’n behoefte aan lees het, boeke kan uitneem.”
Dié ATKV-tak se bestuur het besluit om boekhuisies op verskeie strategiese plekke op te rig en lede is tans in die proses om dié huisies te ontwerp en te bou.
Dié boekhuisies sal by skole en hospitale opgerig word en die ATKV wil ook ’n boektrommel aan plaaslike ouetehuise skenk.
“Ons seniorburgers benodig ook ons hulp en ons wil graag vir hulle ook iets gee wat van waarde is en vir hulle vreugde sal bring.
“Die boekhuisies moet ’n plek wees waar kinders ’n passie vir lees kan ontwikkel, asook ’n plek waar mense ontvlugting kan vind.”
Me. Van Wyk het ander ATKV-takke uitgedaag om ook so ’n projek aan te pak en ’n leeskultuur onder hulle gemeenskappe te kweek.
Belangstellendes wat by dié projek betrokke wil raak, boeke wil skenk, wil help met die boekhuisies of ’n onderneming se naam op dié huisies wil aanbring, kan me. Van Wyk skakel by 074 103 6381 of me. Laurika Steenkamp by 083 566 4790.
Die boeke wat geskenk word, moet in ’n goeie toestand wees.



