PJ en Lettie verruil Bethal vir Witrivier
Egpaar bedank kliënte vir jare se ondersteuning.
BETHAL – Mnr. PJ en me. Lettie Marais verruil Bethal na jare vir Witrivier.
Me. Marais het op ‘n plaas tussen Bethal en Trichardt grootgeword terwyl mnr. Marais in 1954 na Bethal verhuis het.
Hy het op Colesberg grootgeword en eers vir die destydse Volkskasbank op Middelburg in die Kaap gewerk voordat hy later na die tak in Capitalpark in Pretoria oorgeplaas is.
Hy het net ‘n jaar in Pretoria gewerk toe hy na Bethal oorgeplaas is.
Mnr. Marais het later die bank vir die versekeringswese verruil en ‘n makelaar geword.
Hy het in 1998 afgetree en nou besluit om na hul kinders wat in die Laeveld woon, te trek.
Hy en me. Marais is al 21 jaar getroud en hulle het vier kinders, vier kleinkinders en twee agterkleinkinders.
Me. Marais het vir bykans 10 jaar by Standardbank gewerk en later vir ‘n boekhouer gewerk voordat sy by Jim van Tonderskool as sekretaresse gewerk het. Sy het in 1982 ‘n bloemiste op Bethal gekoop en vir die afgelope 39 jaar voltyds in dié winkel gewerk en blomme aan Bethallers voorsien.
Sy het al haar kliënte van die afgelope 39 jaar bedank vir hul ondersteuning.



