Local newsNews

Secunda VLU-tak nooi vroue na volgende vergadering

Kom kyk self waaroor VLU regtig gaan.

SECUNDA – Die Vroue Landbou-unie (VLU) is vanjaar 90 jaar oud.

Me. Liezel Myburgh, skakelbeampte van Secunda se VLU-tak, het gesê vroue hoef nie noodwendig te kan bak en hekel of brei om deel van die VLU te wees nie.

“Dit is ‘n plek waar ons saam kuier en by mekaar leer,” het sy gesê.

“Baie vroue het ‘n wanpersepsie van die VLU en dink ‘n mens moet kan bak en naaldwerk doen om deel van dié organisasie te wees.”

Volgens haar is die VLU in Junie 1931 amptelik gestig toe vroue, in die tydperk van die Tweede Wêreldoorlog toe die moraal laag was en armoede hoogty gevier het, moes probeer om hul inkomste aan te vul deur tuisprodukte te maak en verkoop. Omdat die jonger generasie egter nie die nut daarvan gesien het om later op die plase aan te bly nie, was daar ‘n groot behoefte om vroue van plase te verryk en hul lewensgehalte te verbeter.

“Die VLU is vir vroue wat wil sosialiseer, nuwe vriende wil maak en haar selfbeeld ‘n hupstoot wil gee,” het me. Myburgh gesê.

Handwerkaktiwiteite wat skryfkuns, digkuns, breiwerk, borduurwerk, leierskap en ander vaardighede insluit, is opsioneel.

Volgens me. Myburgh, is van die ander wanpersepsies wat mense oor die VLU het, dat net huisvroue kan aansluit, dat dié organisasie net vir ou tannies is, dat net boervroue kan aansluit, dat jy die hele tyd aan kompetisies moet deelneem en dat, hoewel dit ‘n era van tegnologie is, vroue van hul ouma’s se dinge moet leer.

“By die VLU-takke skenk ons wel aandag aan vaardighede wat jou ouma dalk gebruik het, maar die VLU is ‘n dinamiese organisasie wat saam met die tye beweeg.”

Die VLU pak jaarliks verskeie projekte aan soos hul boomplant-projek en ‘n kamp om jong meisies lewens- en handwerkvaardighede te leer.

Woon die Secunda VLU-tak se volgende vergadering by op Woensdag, 2 Junie in Die Ark by die N.G. Kerk Secunda-Oos/Goedehoop-gemeente. Vir meer inligting, skakel me. Launa Jansen van Vuuren by 061 065 7417.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button