Oopkop ds Hans Britz is nuwe herder by die Hervormde Kerk op Standerton
Die saadjie om ’n dominee te word, is geplant tydens ’n gesprek met ’n geloofsvoorbeeld, tannie Felicia Smit wat sekere karaktereienskappe in hom gesien het.
Ds. Hans Britz, die nuwe herdersfiguur by die Hervormde Kerk op Standerton, se beskouing oor sy rol sal by die praktiese mense in die gemeenskap aanklank vind.
“Ek sien myself nie as die grootste wysgeer nie, ek is eerder ‘n pragmatis,” het ds. Hans gesê.
Sy universiteitsopleiding het in Bloemfontein in 1986 begin met studies in ‘n natuurwetenskaplike rigting, hoewel sy droom iets anders was.
“Ek wou graag ‘n tandarts word, maar die deure het bly toegaan,” aldus die predikant wat ook met ‘n honneursgraad in sielkunde bemagtig is.
Die saadjie om ‘n dominee te word, is geplant tydens ‘n gesprek met ‘n geloofsvoorbeeld, tannie Felicia Smit, wat sekere karaktereienskappe in hom gesien het.
“Ek het my in die teologie bekwaam en die deure het bly oopgaan.”
Dr. Wally Grant, ‘n kernfisikus verbonde aan Pelindaba, het die volgende raad gegee: “Hans, jy het óf ‘n standpunt, óf nie,” het dr. Grant gesê.
Ds. Hans se wetenskapagtergrond het hom tot die slotsom laat kom dat nie alles in die wetenskap eksak is nie.
Hy en Ina sy vrou, is geen vreemdelinge vir die Hoëveld nie.
Sy sterk ontwikkelde samelewingsbesef het in gemeentes soos Hendrina en Kriel uiting gevind, hoewel die beroepe elders ‘n besondere impak gelaat het.
Die Kalahari se Katu, Kuruman, Upington en Postmasburg, sowel as gedeeltes van Namibië het onder sy sorg geval.
“Ek het vanaf Windhoek tot Oshikati bedien,” aldus ds. Hans.
Die egpaar het drie kinders, Nico en die tweeling, Zack en Amke en een seun, Hennie is voor sy 21ste verjaarsdag oorlede.
Die onus rus nou op die sibbe om die nageslag te laat voortleef.
“Ek soek ‘n kleinkind wat my jaggeweer kan dra as ek 60 is,” het dié buitelugmens laat val.
Skyfskiet, hengel en bietjie gholf val onder sy sportbelangstellings en nou wag Grootdraaidam op hom.
“Die visstokke het stof in Kuruman opgegaar.”
Ds. Hans het op universiteit sowel vasskop- as loskopstut gespeel, en sal sekerlik die Britse Leeus se toer in Suid-Afrika noukeurig dophou.
Sy ouma, altyd aangespreek as net ‘ouma’, het sy eerste rugbybal aan hom gegee.
Hy is al by geleentheid vir ‘n boer aangesien en sowel potjiekos, as braaivleis val in sy smaak.
“Ek is ‘n ‘en ..en’-mens en nie ‘n ‘of..of-mens nie,” het hy verklap.
Moet dus nie vra of hy koffie óf koeldrank wil hê nie, hy is heel gemaklik met albei.
Sy geloofsoortuiging wentel om ‘n diepe verhouding met die Allerhoogste en oordele en vooroordele kan, volgens hom, mense kniehalter.
“Mense vermeng soms geloof om by hulle lewenstyl aan te pas,” het hy ook gesê.
Die negatiewe sy van die lewe, kan ook geleenthede bied.
“Onweersoomblikke is ‘n kans om te groei,” was sy mening.
Ds. Hans het verhoudinge in die onderhoud saamgevat met die klem op Godgegewe keuses: “Waar jy begin, is waar jy eindig.”



