AfriForum Standerton waarsku inwoners
Volgens AfriForum, het voertuigdiefstal beduidend die afgelope maand toegeneem.
AfriForum se beheerkamer vir Gauteng, Limpopo en Mpumalanga (noordstreek) het in Mei meer as 235 gevalle hanteer en die organisasie se buurtwagte in dié provinsies ondersteun.
Volgens ‘n onlangse persvrystelling, is die doel van die beheerkamer om AfriForum-buurtwagte te ondersteun deur te verseker dat hulp en die nodige hulpbronne vinniger ontbied kan word.
Die gevalle wat hanteer is, sluit onder meer in 25 vermiste persone, ‘n moord, vier plaasaanvalle en een OTM-bom.
Buurtwagte in die drie provinsies het in Mei meer as ‘n duisend patrollies gery waarvan 191 in Mpumalanga..
Sowat 1 030 mense het in die provinsies aan dié patrollies deelgeneem.
“Die beheerkamer bied oorkoepelende ondersteuning aan AfriForum-buurtwagte,” het mnr. Llewellyn Hemmens, provinsiale veiligheidskoördineerder vir die noodstreek, gesê.
“Buurtwaglede op voetsoolvlak fokus meer op die taktiese kant – probleme wat ervaar word en oplossings daarvoor waar die beheerkamer meer operasioneel funksioneer om seker te maak die nooddienste weet van die probleme.”
Volgens AfriForum, het voertuigdiefstal beduidend die afgelope maand toegeneem.
“Dit het tot gevolg gehad dat ons die patrollies moes aanpas, omdat dié soort misdaad gewoonlik baie druk op staatsinstellings met beperkte hulpbronne plaas.
“Ons bedank die personeel wat daagliks hul tyd opoffer om ‘n verskil te maak.”
Die publiek is gewaarsku om nie waardevolle items in hul voertuie te laat nie en ook seker te maak dat voertuie op veilige plekke parkeer word.



