Local newsNews

Rian van Zyl van Standerton trek nie kleinkoppie vir werk nie

Rian se belangstellingsveld of stokperdjie waaraan sy groot waarde heg, is fotografie.

Me. Rian van Zyl, ‘n boervrou met jarelange ondervinding van boekhouding op die plaas, se dae wentel nou om in te val by die familie-onderneming op die dorp.

Rian het in 1980 aan Hoërskool Standerton matrikuleer, na skool die bankwese betree en diens in verskeie afdelings vir ‘n jaar gedoen.

Na haar huwelik met Jan, het sy met hart en siel by boederybedrywighede op Villierschrick ingeskakel, en ‘n magdom take verrig.

“Ek het saam met Jan “geboer” en hom ten volle ondersteun, gehelp sover ek kon,” het Rian vertel.

“Ek het twee wonderlike kinders, Mariette en Ben.

“Ben is ‘n musikant en bedryf saam met sy vrou, Monique ‘n deli in George, en Thomas en Mariëtte is die eienaars van TMH Bearings.”

Dié ouma van Hendri, Luan en klein Olympia wat vyf maande oud is, se skoolgaande kleinkinders is by Kalies.

Die plaas is 38km uit die dorp en Rian is vroeg uit die vere op weeksdae op pad na die boerewinkel.

Dit is ‘n voltydse werk en sy het nie veel genade met haarself nie, met werksetiek wat ook ‘n rol speel.

“Ek gee myself nie sommer af nie,” aldus Rian.

“Ons luister graag musiek, kontemporêre musiek tot ligte klassieke musiek.”

Sy het ‘n redelike verskeidenheid vetplante en dis vir haar heerlik om tyd in die vetplanttuintjie deur te bring.

“Fotografie is my stokperdjie en ek het duisende foto’s wat op hardeskyf gestoor word.

“Ek hoop my kinders en kleinkinders sal dit eendag waardeer.

“Na’n week se harde werk, is daar niks lekkerder as om saam met kosbare vriende te lag en kuier nie.

“Ek leef daagliks in dankbaarheid vir die genade wat ons as gesin in oorvloed ontvang.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button