Sibambene-vroue gee terug aan gemeenskap
Met die hulp van die Rotariërs se skenking van naaldwerkmasjiene, tafels en materiaal, het Sibambene in 2016 ontstaan.
ERMELO – Die Ermelo Rotariërklub het onlangs sowat 200 maskers aan die personeel van Mediclinic Ermelo oorhandig.
Dié maskers is deur ’n groep vroue van die Nganga-gemeenskap in Warburton gemaak.
Met die hulp van die Rotariërs se skenking van naaldwerkmasjiene, tafels en materiaal, het Sibambene in 2016 ontstaan.
Me. Ansie Cilliers, wat Sibambene se bemarking behartig, het vertel dat hulle pragtige sagte speelgoed, inkopiesakke, lappieskomberse, matte, maskers en klere maak.
Hulle het ook onlangs ’n skenking van materiaal ontvang, waarmee hulle maskers gemaak het en teen bekostigbare pryse aan die arm gemeenskap verkoop het.
Met die inkomste wat hulle genereer het, het hulle ook ander geleer hoe om naaldwerk te doen.
Die AGM Saagmeule het sowat 3 000 maskers by die groep vir hul werkers gekoop.
Me. Cilliers het vertel dat die vroue vasberade is om suksesvol te wees en ’n verskil in hul gemeenskap te maak.

“Die vroue het vanuit hul inkomste ’n spaarplan opgetrek en kon al industriële naaldwerkmasjiene en industriële omkapmasjiene aankoop.”
Vir nou spaar die vroue van Sibambene vir ’n tweedehandse voertuig.
Uit die gelde wat hulle verdien het, het hulle ’n klein gebou opgerig wat as hul werkswinkel dien.
Die Sinomamma-sentrum is ook op die been gebring, waar daar aan weeskinders en kinders uit huise sonder inkomste – twee keer per dag, ’n maaltyd voorsien word.
Enige persoon wat ’n bydrae wil maak vir die groep, kan me. Nicolene Griffits van die Ermelo Rotariërklub by 076 709 0799 kontak.



