Local newsNews

Zak Zwarts kyk die lewe vierkantig in die oë

Zak het op daardie stadium sosiaal gedrink en gekuier, maar later tot die nare besef gekom dat dit wel ’n probleem is.

Vir die man wat die sakewêreld blinkoog betree het, het die lewe ’n aantal kronkels gegooi wat hom onkant betrap het.

Mnr. Zak Zwarts van Standerton het onlangs sy verhaal, van byna agt minute lank, op Facebook gedeel en van die faktore wat aanleiding tot sy inkeer gegee het.

Zak het die drankduiwel pens en pootjies oorwin.

“Ek het geen medikasie gebruik nie, nie ontrekkingsimptome gekry nie en nog minder my in ’n rehabilitasiesentrum laat opneem,” het Zak vertel.

“Ek was op 20 Mei skoon vir 405 dae met nie ’n druppel alkohol oor my lippe nie.”

Dié voormalige hoofseun van Hoërskool Standerton was ook die eerste Mnr. SHS wat die skool aangekondig het.

Zak het as losskakel vir die rugbyspan uitgedraf en na skool, is hy Tukkies toe om menslike beweegkunde te studeer.

“Ek het graad gevang en sou begin werk het, toe kom die oproep,” het hy onthou.

Om meenthuise te bou, het sy nering geword en die konstruksiebedryf het hom vir 11 jaar besig en bedrywig gehou.

Koning Midas, soos in die Griekse mitologie weergegee, het die septer geswaai.

“Alles wat ek aan geraak het, het goud geword.”

Zak het op daardie stadium sosiaal gedrink en gekuier, maar later tot die nare besef gekom dat dit wel ’n probleem is.

’n Huwelik het gevolg, wat later op die rotse beland het.

Die finansiële eise wat sy ondernemings gestel het, het stadig maar seker gelei na ’n tydperk wat hy toenemend skuld aangegaan het.

Op persoonlike vlak en op werksgebied het hy reeds stres tot so ’n mate ervaar, dat hy ten alle koste moes oorleef.

“Ek het gedrink om die geweldige verpligtinge te hanteer.”

’n Jong vrou met die naam, Shané, het daarna sy pad gekruis te midde van die onsekerheid en troebelheid van sy bestaan.

Na twee jaar het die paartjie verloof geraak en hy moes haar op 20 Mei aan die dood afstaan.

“Sy het my in totaliteit aanvaar en haar bystand was die grootste wonderwerk wat nog met my gebeur het.

Dit was onmoontlik om van haar afskeid te neem weens die Covid-19 regulasies.

Dit spook tot vandag toe by hom.

Zak het nou ’n lewensfilosofie wat getuig van introspeksie en besinning.

“Daar is iets na al die hartseer en negatiewe dinge wat gebeur het.”

Op die koop toe, het hy ’n familieverband wat sterk ondersteunend is en meld hy daagliks aan by die familie-onderneming. Nie dat dáár nie ook hartseer is nie.

“Hulle staan my geweldig by.

“Shané was perfek in elke opsig met karaktereienskappe soos geduld, saggeaardheid en ondersteunend, presies dít wat ’n man in ’n vrou soek.”

Zak besef dat niks ooit vir Shané te veel was om te hanteer nie.

Izak Johannes Zwarts speel nou kitaar wanneer die nostalgie hom beetpak en wil graag, nie in die verre toekoms nie, sy eie musiek neerpen.

Sy geloofsbesef is ’n gegewe.

“As dit nie vir die Here was nie, was ek nie vandag hier nie,” het hy mee afgesluit.

“Ek kan vandag met dankbaarheid opkyk na my Hemelse Vader in die wete dat Sy goedheid en guns my elke tree op die pad vergesel het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button