Local newsNews

Nicolaas van der Merwe van Standerton sterf na stryd teen kanker

Dié oupa van drie kleinkinders, pa van drie kinders en eggenoot van Trudie, sou op 26 Junie sy 75ste verjaarsdag vier.

’n Vooraanstaande boer van Standerton, mnr. Nicolaas van der Merwe, het op 21 Junie sy moedige stryd teen kanker verloor.

Sy seun Gert, het gesê dat maagkanker meer as twee jaar gelede by hom gediagnoseer is.

Die gesin het noodgedwonge die pad van chemoterapie geloop totdat die onkoloog die onstellende nuus meegedeel het dat daar medies gesproke, niks meer vir hom gedoen kon word nie.

Mnr. Van der Merwe is by die huis in sy eie bed oorlede.

“n Tuisversorger het na hom die laaste ses weke omgesien,” het sy vrou, Trudie, gesê.

“Dit was sy wens om by die huis te wees.”

Trudie het die praktyk van drr. Van Heerden, Manser en Louw bedank, wat hom tot die einde bygestaan het.

Nicolaas is in 1946 op Standerton gebore as die oudste kind van Gert en Anna van der Merwe op die plaas, Verblyden.

Hy het sy skoolloopbaan op die dorp voltooi en na skool saam met sy pa begin boer.

Hy het vir meer as 50 jaar op die plaas, Grootdraai gebly en geboer.

Nicolaas was getroud met Trudie Brits, ook van die distrik, wat op die plaas, Weltevrede grootgeword het.

Hulle het ’n tweeling seun en dogter, Gert en Zania gehad en die jongste, Nicolaas is tans op Brits in ’n oord vir gestremdes.

Gert, wat boer op die familieplaas, is getroud met Marliza en hulle het drie kinders, Mariané, NJ en Truné.

’n Gedenkdiens is op 30 Junie om 11:00 in die N.G. Kerk se Suidgemeente in Meyerville gehou.

Ds. Pieter Kotze het die diens gelei waar familie en vriende op gepaste wyse hulde aan hom gebring het.

Dié oupa van drie kleinkinders, pa van drie kinders en eggenoot van Trudie, sou op 26 Junie sy 75ste verjaarsdag vier.

Familie het hom beskryf as hardwerkend, wat met presisie en trots geboer het.

Dié bobaasstorieverteller het sy passie vir rondreis, veral met sy 4 x 4-voertuig en woonwa uitgeleef.

In die gedenkblad loop wyle Nicolaas se geloof soos ’n goue draad.

Sy vrou het hom daarin as Godvresend, netjies, trots en vasberade beskryf en Gert het ook sy geloof beklemtoon, met wysheid, ’n humorsin en raad daarby toegevoeg. Zania het sy insig, wysheid, nederigheid en eerlikheid neergepen.

Nicolaas se suster, Helen het vertel dat hy tot vyf dae voor sy afsterwe op die familieplaas, wat meer as een geslag sien boer het, bedrywig was.

Sy swaers Pieter de Beer, Jurgens Brits en Johann Gerber het ook hulde gebring.

“Hy was geliefd en sy heengaan laat ’n groot leemte in sy huisgesin, familie en ander,” het sy dogter, Zania gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button