Local newsNews

Van Wyks groet Secunda na jare

Egpaar verruil Secunda vir huisie by die see.

SECUNDA – Mnr. Jan en me. Renera van Wyk wat albei by ’n skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes gewerk het, verruil Secunda binnekort vir Grootbrakrivier in die Kaap as hulle aftree.

Dié egpaar het mekaar op universiteit reeds ontmoet toe hulle onderwys studeer het.

Hulle het by meer as een skool saamgewerk en woon die afgelope 34 jaar op Secunda.

Na universiteit is mnr. Van Wyk weermag toe op Oudtshoorn en me. Van Wyk het toe by die onderwyskollege in die Suid-Kaap klas gegee.

Nadat mnr. Van Wyk sy twee jaar diensplig voltooi het, het die egpaar na Secunda verhuis.

“Secunda was goed vir ons. Ons kinders het hier grootgeword en ons het vir die langste tyd van ons volwasse lewens hier gewoon,” het me. Van Wyk gesê.

Dit is met gemengde gevoelens wat die egpaar Secunda verlaat.

Hulle het twee dogters en drie kleinkinders wat op Secunda en in Pretoria woon.

“Ons gaan hulle baie mis, maar ons het ook tydens verlede jaar se inperking geleer hoe om met video-oproepe met hulle te kommunikeer,” het mnr. Van Wyk gesê.

Me. Van Wyk het tydens haar studies gespesialiseer in remediërende onderwys en sy het later haar honneursgraad in aanvullende en alternatiewe kommunikasie behaal.

Sy het vanjaar haar meestersgraad in dié rigting, wat daarop fokus om gestremde kinders asook volwasse persone, te help met kommunikasiemetodes wat gewone spraak of skryfstyl vervang sodat hulle beter kan kommunikeer.

Toe die egpaar destyds na Secunda verhuis het, het me. Van Wyk nie werk gehad nie, maar mnr. Van Wyk het reeds ’n aanstelling by Highveld Ridge Primary School gekry.

Me. Van Wyk het later by Laerskool Oranjegoed Primary School gewerk en het toe eers vir ’n rukkie by Highveld Park High School skoolgehou voordat sy ook by Highveld Ridge Primary School begin werk het.

Die egpaar het vir onderskeidelik 26 jaar en 22 jaar by Highveld Ridge Primary School skool gehou en albei later by Marietjie Skool vir vyf jaar.

Mnr. Van Wyk het gestremde leerders vaardighede geleer soos houtwerk.

Die egpaar het later by Basizeni Special School, ook vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes, op eMbalenhle begin werk vir sewe jaar.
Vir mnr. Van Wyk was dit die grootste plesier om te sien hoe ’n gestremde kind, wat byvoorbeeld net een hand het, dit uiteindelik kon regkry om ’n skaaf of ander stuk toerusting vas te hou en iets te maak.

“Dit is sulke goed wat vir daardie kinders ’n groot uitdaging is, om net iets vas te hou en dan met dit te kan werk en ek het hulle geleer en gewys hoe om dit te doen,” het mnr. Van Wyk gesê.

Hy is ook ’n ywerige gholfspeler en dit was vir hom ’n voorreg om in 2019 deel te wees van die Suid-Afrikaanse span wat gestremde atlete na die Spesiale Olimpiese Spele in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate kon vergesel.

Mnr. Van Wyk was by die gholfspan betrokke en twee van dié Suid-Afrikaanse gholfspelers is tydens die spele as wêreldkampioene gekroon en nog ses het goue medaljes ingepalm.

“Dit was beslis ’n hoogtepunt in my onderwysloopbaan,” het mnr. Van Wyk gesê.

Een van die ander hoogtepunte van sy loopbaan vir hom was toe hy en me. Van Wyk deel was van die komitee van die Mpumalanga Sportvereniging vir Gestremde Leerders (MSAAII) en in 2016 ’n nasionale atletiekkampioenskap op Secunda gereël het waaraan 2 200 gestremde leerders deelgeneem het.

Me. Van Wyk was deur die jare as onderwyser by verskeie kulturele aktiwiteite betrokke asook by Marietjie Skool se slagorkes.

Sy het ook die bemarking van sport vir gestremdes gedryf en selfs foto’s geneem en verslae geskryf om dit op sosiale media te plaas.

Sy het veral daarop gefokus om bewusmaking te doen van waartoe gestremdes in staat is.

“Baie mense is geneig om te dink gestremdes kan niks doen nie, maar daardie persepsie verander baie vinnig wanneer hulle sien waartoe gestremdes regtig in staat is,” het me. Van Wyk gesê.

Sy was vir jare betrokke by sport vir gestremdes en het gereeld as beampte by kompetisies en byeenkomste opgetree.

Sy het in 2018 ’n nasionale onderwys-toekenning ontvang en derde in Mpumalanga geëindig vir uitnemendheid en spesiale behoefte onderwys.

“Dit is vir my lekker om sukses te behaal in ’n klas met leerders wat nie kan kommunikeer nie en later kan hulle minstens op sekere maniere met ander kommunikeer en wys wat hulle behoeftes is,” het me. Van Wyk gesê.

Sy het ook rekenaarklasse vir gestremdes aangebied en beplan om na haar aftrede steeds betrokke te wees by die ontwikkeling van studiemateriaal vir gestremdes.

Mnr. Van Wyk wil gholfontwikkeling onder gestremdes bevorder as die egpaar ingeburger is by hul nuwe tuise op Grootbrakrivier.

Hulle sien ook uit daarna om gesonder te leef met meer vars lug en om lang ente langs die see te gaan stap.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button