Bedelaars op Secunda verdien glo meer geld met bedel as om te werk
Bedelaars sê nee vir werk vir R250 per dag.
SECUNDA – ’n Inwoner wat vir bedelaars by verkeersligte werk aangebied het, was verbaas toe hulle dié aanbod van die hand gewys het.
“Ek was bereid om hulle R250 daagliks te betaal, maar die man het reguit vir my gesê hy verdien baie meer geld as hy by die verkeerslig staan en bedel,” het die inwoner vertel.
Hy wil die gemeenskap aanmoedig om dalk twee keer te dink voordat hulle net geld gee vir die bedelaars.
“Ek dink hulle raak lui om te werk en dit is baie makliker om ’n inkomste te verdien deur te bedel,” het die inwoner gesê.
Me. Liza de Coning, voorsitter van Helpende Hand se tak op Secunda, het gesê sy het onlangs by twee mans wat by verkeersligte staan en bedel, gestop en vir hulle hulp aangebied, maar hulle het steeds nie by Helpende Hand se Ons Winkel op Secunda aangemeld nie.
“Helpende Hand help mense nie net met kos, klere of komberse nie, maar ons help ook as hulle hulp nodig het om ’n CV op te stel,” het me. De Coning gesê.
“Mense wat by ons hulp wil kry, moet eers ’n vorm invul, maar dit is sodat ons kan sien wat is hulle behoeftes, want ons voel ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons skenkers om seker te maak dit wat hulle skenk, kom by die mense uit wat dit werklik nodig het.
“Hier is baie bedelaars wat by al die organisasies op die dorp kry, so ons het die aansoekvorm om seker te maak mense vertel nie net stories as hulle vra vir kos nie.”
Behoeftiges kan selfs op WhatsApp ’n vorm vir Helpende Hand invul as hulle hulp nodig het.
“Ons het ’n maatskapliker werker wat ’n behoeftebepaling doen en seker maak as jy gee, dat jy op die regte plek gee en eerder aan ’n organisasie.”
Me. De Coning glo as iemand regtig gehelp wil word, moet hulle hulself darem ook wil help en iets doen om gehelp te word.
“Ons wil regtig graag behoeftiges help en daar is goeie strukture in plek om sulke mense te help en dit is strukture wat daarop fokus om hulle op ’n volhoubare manier te help.”
As jy by Helpende Hand betrokke wil raak, skakel me. De Coning by 082 567 2247.







