Local newsNews

Bert en Norma-Anne groet na byna 50 jaar op Standerton

Maak geen fout nie, die albums is reeds ingepak, die matte is laat was en ’n grootskaalse opruim van 49 jaar se herinneringe en oorbodige items het plaasgevind.

Die Bakkers van Standerton se woning is gepak met bokse vir die eersdaagse verhuising na ’n aftree-oord in Pretoria.

Bert en Norma-Anne het byna die 50-jaar-kerf gehaal en die oorweging is hoofsaaklik geskoei op mediese versorging by die oord.

Bert sal nie net onthou word as ’n sakeman en burgemeester van Standerton nie, maar ook as iemand wat op verskeie komitees gedien en insette veral op die landbousektor gelewer het.

“Ek het op ’n stadium geskrik toe ek besef het op hoeveel komitees ek dien,” het Standerton se voormalige Sakeman van die Jaar gesê.

“Ek was so betrokke in die gemeenskap dat ek naderhand nie tyd met my gesin kon deurbring nie en het begin afskaal.

“Dit het bietjie rof begin gaan.”

Norma-Anne, die tuisteskepper, kon haar kreatiwiteit grootliks uitleef met ’n stokperdjie wat ’n lewe van sy eie begin kry het.

“Ek het op ’n stadium kommersieel begin brei,” het sy gesê.

Soms is patrone ontwerp vir mense, wat dan ook nadat hulle die eindproduk gesien het, op eksklusiwiteit aangedring het.

Wol is sowel plaaslik as in die stad bekom voordat sy agter een van haar breimasjiene ingeskuif en ’n skepping begin vorm aanneem het.

“As ek baie hard gewerk het, het ek sowat R400 die maand gemaak,” aldus Norma-Anne.

Die Bakkers se kinders is toeka uit die huis en die oudste seun, Anthon en sy vrou Helen, het vroeër vanjaar, na Vancouver, Kanada verhuis.

Dan moet ook in ag geneem word dat die jongste seun Bert, en sy vrou Yolandi, reeds ’n geruimte tyd Doer Onder woon.

Wanneer die tydsones uiteraard gerieflik is, kan die ouers met hulle nasate oorsee kommunikeer.

Hulle het net voor die grendeltydperk verlede jaar ingestel is, van Australië teruggekeer en 9 Maart op Oliver Tambo-lughawe geland.

Robert, hul middelkind en sy vrou Suanita, bly wel in Pretoria.

Die Bakkers spog met ses kleinkinders, vier seuns en twee dogters en daar is getrou rekord gehou van al die mylpale in die familie se lewens.

Maak geen fout nie, die albums is reeds ingepak, die matte is laat was en ’n grootskaalse opruim van 49 jaar se herinneringe en oorbodige items het plaasgevind.

Albei het ook werk van hulle geloof gemaak.

Bert het etlike jare, met periodieke tussenposes, op die kerkraad van die Gereformeerde Kerk gedien en Norma-Anne het vir ’n tydperk sowel die voorsitterstoel, as sekretarisamp, ingeneem by die sustersvereniging.

Hy klim nog gereeld op die BMW-motorfiets vir geloofsuitstappies om Bybels in die gemeenskap te versprei.

Die vraag of daar enige mentors was wat hul begelei het, of hoogtepunte in ’n vol lewe, het hulle tot nadenke gestem.

Bert het sy curriculum vitae einde op laas gaan haal om hom van sy gemeenskapsbetrokkenheid te vergewis.

Noem maar op, sakekamer, ouetehuiskomitee, skoolbeheerraad, skoukomitee, veevoervereniging, landboukomitees en streeksontwikkelingkomitee.

Met laasgenoemde het hy gepoog om Standerton die hoofdorp in Mpumalanga te maak.

Norma-Anne het die ampstermyn van 1982 tot 1983 as burgemeesterspaar terloops genoem.

“Ek het raad toe gegaan om die gemeenskap te dien en my witgeskrik toe ek as voorsitter van die raad verkies is,” het Bert onthou.

Norma-Anne kon die detail van die gebeure haarfyn terugroep.

“Bert het toe gesê hy kan dit nie aanvaar nie, waarop geantwoord is dat hy vooraf beswaar moes maak.”

’n Vorige burgemeester, wyle me. Juliana te Water, het ’n leidende rol gespeel om Norma-Anne se ouers, Norman en Tara Calitz, na Standerton te laat verhuis.

“’n Hoogtepunt vir my was die seuns se gradeplegtighede want ’n ouer se plig is om kinders vir die lewe voor te berei,” het sy ook gesê.

Die Bakkers het oor die jare gereeld die kunstefeeste bygewoon, opvoerings in Johannesburg en Pretoria gaan kyk en ter plaatse, in ’n toneelproduksie opgetree.

Die laaste woord het aan Bert behoort.

“Ons het baie seëninge beleef in die tyd wat ons op Standerton gebly het.

“Alles is bloot genade.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button