Dries Landsberg van Standerton gooi nie tou op nie
’n Vriend, Alwyn Burger het hom aangeraai om besig te bly en Dries het, sonder hulp van n arbeidsterapeut, homself weer geleer praat en loop.
Mnr. Dries Landsberg van Standerton se ondervindings sedert ’n breingewas gediagnoseer is, het vir ’n onderhoud deurspek met bedaarde optimisme en spritualiteit gesorg.
Om die verhaal tot sy eie reg te laat kom, moet teruggegaan word na die Landsbergs wat in 1992 uit Brits hierheen verhuis het.
Dries het bevordering tot superintendent van administrasie by die Lekwa Munisipaliteit gekry en met sy jarelange ondervinding in die verkeersafdeling, het dié gesoute amptenaar hom kon vergewis van al die wetlike administrasie verbonde aan voertuie en bestuurders.
Dries moes in 2008/2009 egter ’n vroeë aftreepakket neem nadat sy gesondheid hom daartoe gedwing het.
“Ek het nie dadelik agtergekom wat fout was nie, net dat ek van balans af was as ek geloop het,” het Dries gesê.
Migraine-aanvalle was ook sy voorland en die oorinstituut in Pretoria het ’n breingewas gediagnoseer.
Dries was destyds in ’n motorongeluk nadat ’n Ford Sierra-bestuurder in sy splinternuwe Toyota vasgery het.
“Ek het ’n hou teen die kop gekry,” het hy rustig onthou.
Die gewas kon nie verwyder word nie omdat dit om die sentrale senuwees gevorm het.
Teen laat 2009, begin 2010 het dr. Piet Slabbert hom in die Pretoria-Oos Hospitaal laat opneem vir binneaarse behandeling.
“Dit was blykbaar die sterkste bestraling wat toegedien kon word.”
Dries en sy vrou, Poppie het elke tweede dag vir altesaam twee weke die tog na Pretoria aangepak.
“Ek het skaars van die bestraling hestel, dan was dit weer tyd vir die volgende een.”
Hy het op daardie stadium nog nie geweet of die gewas kwaadaardig was nie, tot die onkoloog ’n doodsvonnis oorgedra het.
“Jy het net ses maande om te leef.”
’n Ander dokter by radiologie het gesê dat dit lewensgevaarlik is.
Dries het nie sy ore uitgeleen nie en die standpunte van die onkoloog en radiologiemense uit sy bewussyn gesny.
Die eerste breinoperasie, wat minstens agt ure geduur het, het in 2010 plaasgevind.
Hoewel dit suksesvol was, het sy toestand sodanig versleg dat hy nie meer kon bestuur nie.
Met sy dogter, Anri se eksamens by Morgenzon Landbou Akademie het Anri, met haar leerlinglisensie, die motor bestuur terwyl Dries buite gewag het.
“Ek het 28kg met haar matriekafskeid geweeg.
“Ek kon nie eet of drink nie, die gewas het my keel toegedruk.”
Die gewas wat algaande vergroot het, kon slegs gedreineer word.
“Hulle was op een stadium bang dat dit sou bars.”
Poppie het driemaal, op doktersaandrang, alleen in die nag na Pretoria gery om by haar man te wees.
’n Loopbaanvonnis is ook oor hom uitgespreek.
“Jy sal nooit weer kan werk nie,” het een dokter gesê.
“Ek was by die huis en nie in staat om ’n hempsknoop vas te maak nie.”
’n Vriend, Alwyn Burger het hom aangeraai om besig te bly en Dries het, sonder hulp van n arbeidsterapeut, homself weer geleer praat en loop.
“Dries, jy weet waarin jy goed is,” het Alwyn hom aangemoedig.
Boere in die gemeenskap en ondernemings het saamgespan en sy onderneming in voertuigadministrasie, bedryf van die huis af, het die lig gesien.
“Ek hanteer van ’n verlore dokument tot ’n voertuiglisensie,” het Dries gesê.
Sy agtergrondkennis is goud werd omdat hy met die stelsel vertroud is.
Dries se ondersteuningsnetwerk bestaande uit Poppie en dogters, Ina, Henriëtte en Anri organiseer dat hy by die lisensiekantore, in sy rolstoel, afgelaai en weer opgelaai word..
Hoewel hy met ’n loopraam kan loop, is die rolstoel geriefliker om die vrag papiere vas te hou.
Hy is nou na sewe operasies ’n veteraan van die hospitaalteater en ’n volgende een wag.
’n Breinskandering gaan binnekort ondergaan word.
“Die dokter was verstom waarmee ek my besig hou en oor die verbetering in my gesondheid.
“Ek kon die vorige keer skaars praat.”
Anri het destyds gepleit dat hy net moet aanhou tot haar troue.
“Ek het haar in die kapel, rolstoel en al, ingevat.”
Dries het onomwonde verklaar dat hy nog nooit depressief was nie, nie dat hy in kitsoplossing glo nie.
Geestelike gewaarwordinge toe hy die eerste keer hospitaalbehandeling gekry het, het ’n rol gespeel.
’n Droom waarin hy die eindstreep reeds kon sien, was die begin van iets nuuts.
“Dié ondervinding het my tot die besef laat kom dat ek my verhouding met die Opperwese moes versterk.”
Hy het sy getuienis aan ’n pastoor oorgedra wat dit die daaropvolgende Sondag in ’n preek gebruik het.
“Dit is wat my tot vandag toe dra.
“Hier waar ek sit, is deur en deur ’n wonderwerk.”




