Local newsNews

Hanno neem leisels oor by fotografieklub

“Met die koms van vandag se ongelooflike tegnologie in ’n selfoonkamera, is dit heel toeganklik om met ’n selfoon mee te ding met van die bestes.”

Mnr. Hanno de Beer se belangstelling in fotografie is geprikkel toe ’n onderwyser in gr. 9 ’n kamera in sy hande gedruk het en gesê het hy moet foto’s neem.

“Hy het net vir my gesê fokus op die lat en kliek sodra die atleet spring. Ek moes foto’s by die hoogspring neem,” het mnr. De Beer vertel.
Hy het toevallig dié dag ook die skool se sterhoogspringer afgeneem waar dié ’n nuwe rekord opgestel het en dié foto het op die skoolkoerant se agterblad gepryk.

Mnr. De Beer het op Carolina grootgeword en sy pa was destyds die hoof van die hoërskool.

Sy pa het ook ’n kamera gehad waarmee hy soms foto’s geneem het as die gesin met vakansie wildtuin toe gegaan het.

Ná skool het mnr. De Beer aan die Universiteit van Potchefstroom ingenieurswese studeer.

Gedurende sy studentejare het hy op die broodlyn geleef en kon nie ’n kamera bekostig nie.

Hy het na universiteit by Sasol op Secunda as prosesingenieur begin werk en het sowat 10 jaar gelede, na sy oudste kind Hanlie, se geboorte, sy eerste kamera gekoop.

“Ek het eers alles wat beweeg het en nie beweeg het nie, afgeneem,” het hy vertel.

’n Kollega het hom vertel van die fotografieklub op Secunda en mnr. De Beer het in 2012 by die Sasol Hoëveld Fotografieklub aangesluit en as ’n 1 ster-fotograaf begin om sy foto’s by die klub in te skryf.

Hy het in 2014 by die klub se bestuur betrokke geraak en het van ’n junior (1 ster-fotograaf) tot ’n senior (5 ster-fotograaf) gevorder.

Hy is sedert Januarie die nuwe voorsitter van dié klub en hy wil jongmense aanmoedig om aan te sluit.

“As ek eendag oud is, wil ek net deel wees van die klub vir die pret, dan moet die jonger generasie oorneem.

“Met die koms van vandag se ongelooflike tegnologie in ’n selfoonkamera, is dit heel toeganklik om met ’n selfoon mee te ding met van die bestes.”

Hy wil daarop voortbou om die klub uit te brei en om dit meer toeganklik vir Jan Alleman te maak wat lidmaatskapgeld betref.

Sasol Fotografieklub word die laaste paar jaar deur Sasol geborg wat ’n perseel betref en dus kan die klub die lidmaatskapgeld goedkoper maak.

Die klub se jongste lid is mnr. De Beer se dogtertjie, en haar boetie, Christiaan (8), wil ook aansluit sodra hy sy eerste kamera kry.

“Fotografie is iets wat die hele gesin kan beoefen en ons klub is ook gesinsvriendelik,” het mnr. De Beer gesê.

Sy vrou, me. Liza de Beer, ’n apteker, is ook ’n lid van die klub en neem ook soms bietjie foto’s.

Mnr. De Beer se gunsteling styl is makro-fotografie en hy reken dit is ook die goedkoopste vorm van fotografie.

Hoewel die lense duur is om aan te skaf, is daar nie kostes om êrens heen te reis om ’n foto te neem nie, want ’n mens kan dit sommer in jou eie agtertuin neem.

“Ek was nog altyd nuuskurig en dit is interessant om te sien presies hoe die haartjies op ’n by se oog lyk en met makro-fotografie kan ’n mens dit vasvang.”

Mnr. De Beer neem ook graag sportfoto’s en geniet dit om die aksie en emosie van die atlete, sowel as die toeskouers, vas te vang.

Hy gaan graag wildtuin toe as hy die kans kry om natuur- en landskapfoto’s te neem.

Hy het belangstellendes genooi om die klub se volgende byeenkoms by te woon en te kyk wat hulle by die fotografieklub doen.

Lidmaatskapgeld is so min as R100 per jaar.

Vir meer inligting, skakel mnr. De Beer by 071 365 6440.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button