Piet Retief-onnie veg teen Covid-19 om haar siek dogtertjie weer te sien
Carla is bly sy kan haar dogtertjie sien grootword.
Me. Carla Wartington (32), ’n onderwyser by Hoërskool Piet Retief, het by die dood omgedraai en moes op ‘n slag bygebring word terwyl sy in Mediclinic Highveld op Trichardt gelê het met Covid-19.
Sy is dankbaar dat sy op Maandag, 26 Julie, ontslaan kon word. Sy is op 7 Julie van Piet Retief Hospitaal na Mediclinic Highveld oorgeplaas.
Me. Wartington is een van die jongste pasiënte tot dusver by Mediclinic Highveld, wat Covid-19 oorleef het. Sy het gesê dit was vir haar verskriklik erg om so kortasem en benoud te voel.
“Die kortasem en benoudheid het so vinnig gekom, ek het skaars geweet wat my tref. Dit was angswekkend en die gespook na asem was hel, ek wil nooit weer in my lewe so voel nie.”
Daar is dele van haar verblyf in die hospitaal wat me. Wartington glad nie kan onthou nie.
“Ek onthou nog toe hulle vir my kom sê het dat hulle vir my ’n bed in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal gekry het en hulle gaan my skuif.
Travel warning for motorists using the road from Ermelo to Piet Retief
“Hulle het toe met die bed in die gang afgehardloop en daarna kan ek nie veel onthou nie. Op ’n stadium was ek weer wakker nadat ek my oë oopgeforseer het en ’n blou ballonvormige ding in my mond gesien het.”
Me. Wartington het leweloos gevoel en kan onthou haar laaste gedagte was dat haar dogtertjie, Carmia wat 19 maande oud is, vir haar lewe moes veg.
“Ek het gedink sy moes veg net om nou sonder ’n ma gaan moet grootword.”
Sy kan daarna eers weer onthou toe hulle haar wakker gemaak het nadat sy vir ’n paar dae onder verdowing was.
Me. Wartington ly aan ’n outo-imuunsiekte, naamlik Rumatoïde artritis, en sukkel al lankal met haar gesondheid en gewrigte.
Sy en haar man, mnr. Neil Wartington, het, weens haar siekte, vir vyf jaar gesukkel om swanger te raak, maar sy het einde 2019 geboorte gegee aan Carmia.
Argument over woman leads to death and life imprisonment sentence in Breyten High Court
Na Carmia se geboorte het die egpaar talle uitdagings in die gesig gestaar. Me. Wartington het gesukkel met migraine en rugpyn en haar liggaam was gereeld in spasma. Sy het selfs vir ’n massering gegaan om die pyn te verlig, maar dit het nie regtig gehelp nie.
“Ek kon skaars my kind optel en my skoonma moes my help om te bad omdat ek soveel pyn gehad het,” het me. Wartington gesê.
Me. Wartington is dokter toe nadat sy begin sleg voel het en die dokter het vir haar medikasie voorgeskryf en haar ingespuit en haar pyn en toestand toegeskryf aan spanning en inflammasie in haar rug, omdat hy haar gesondheidsgeskiedenis met Rumatoïde artritis ken.
Sy het op dié stadium nog nie enige Covid-19 simptome getoon nie en haar koors- en bloeddruktelling was pefek.
Sy het egter die nag nadat sy by die dokter was, begin verswak en mnr. Wartington het agtergekom haar asemhaling is te vinnig en haar saturasie-vlakke gemeet omdat die egpaar ’n toestel by die huis het om dit mee te meet.
Haar saturasie-vlakke het vroeg die volgende oggend baie gedaal en mnr. Wartington het haar dokter toe geneem.
Haar koors was skielik hoog en haar bloeddruk baie laag terwyl sy gewoonlik sukkel met hoë bloeddruk en me. Wartington is getoets vir Covid-19 en in die hospitaal opgeneem nadat sy positief getoets het.
Haar dogtertjie, Carmia het, toe sy drie weke oud was, ’n beroerte gehad en dokters kon nie sê wat dit veroorsaak het nie.
Dié jong vegtertjie moes, toe sy net 21 dae oud was, haar eerste breinoperasie ondergaan.
Carmia het op 3 Junie, sowat ’n maand voordat me. Wartington positief getoets het vir Covid-19, reeds haar 10de breinoperasie ondergaan.
Sy is gediagnoseer met ‘Hydrocephalus’ (waterhoof) en ‘Craniosynostosis’ (skedel sinostose) en sy het in Februarie nog skroewe in haar kop gehad wat die egpaar drie maal daagliks moes draai om die vorm van haar kop reg te maak.
Klein Carmia het ook al die vierde ‘VP shunt’ (omleiding) in haar brein asook ’n pypie wat na haar maag gaan om die breinvog te dreineer.
Die eerste drie ‘VP shunts’ wat sy gehad het, het opgehou werk of ’n verstopping veroorsaak.
Sy het ook in Junie infeksie gehad wat deur die ‘VP shunt’ veroorsaak is.
Carmia is egter nou gesond en daar is geen breinskade nie.
“Sy het tot dusver al haar mylpale behaal,” het me. Wartington gesê.
Dié jong woelwatertjie het op 24 Julie begin loop, terwyl me. Wartington nog in die hospitaal was.
Me. Wartington voel nog baie swak sedert sy uit die hospitaal ontslaan is en sukkel om dinge vir haarself te doen, soos om vir Carmia op te tel.
“Ek het egter baie hulp en my mense kyk mooi na my,” het sy gesê.
“Ek voel verlig en geseënd om by die huis te wees, al voel ek nog nie myself nie.”
Me. Wartington het dr. Bahadur, die personeel by Mediclinic Highveld se intensiewe sorgeenheid en Saal C bedank.
“Hulle het my lewe gered en ek sal hulle ewig dankbaar wees. Hulle en almal se gebede het gemaak dat my dogtertjie met ’n mamma sal groot word. Baie dankie aan almal wat vir my gebid het.”




