Local newsNews

Boshoff-egpaar van Standerton verhuis na Pretoria

Hy het in KwaZulu-Natal, die Laeveld en Hoëveld as sendingpredikant diens gedoen en dis veral die eenvoudige aanbiddingstyl van die Azalea-gemeente wat hy nou agterlaat, wat tot die egpaar spreek.

Ds. Nico Boshoff en sy eggenoot Des, trek die tentpenne op Standerton uit na ’n verblyf van 33 jaar.

Die Boshoffs verhuis na Garsfontein in Pretoria en ds. Boshoff het reeds haarfyn sy roetes beplan.

“Ons is twee minute se ry van ons jongste seun, Willie, af.

“Ons is twee minute se ry van Pretoria-Oos Hospitaal af.

“Ek is drie minute se ry van die gholfbaan af.”

Me. Boshoff, die wiskundeonderwyser, het bygevoeg dat hulle 25 minute se ry van hul ander seun, Jaco, in Waverley af is.

Die Boshoffs het hul dogter, Anina, wat in Australië bly, in 2017 laas besoek.

Al die mans, buiten die predikant, in die familie is ingenieurs.

Hulle spog met sewe kleinkinders, waarvan drie in Suid-Afrika.

Ds. Boshoff se laaste begrafnisdiens wat hy behartig het, was wyle Danie Nordeje s’n en daar wag drie op hom in Pretoria.

Die vertelling oor die somberheid van rou, is op ’n ander vlak geplaas met staaltjies wat by sulke ernstige roudienste kán gebeur.

Tydens een diens toe die kis reeds in die graf afgesak het, het ’n aanmekaargeflansde ‘brass band’ weggeval met ‘You raise me up’, terwyl rewolwerskote by ’n ander diens, moontlik bendeverwant, in die graf afgevuur is.

“Ek was dadelik kwaad toe die eerste skoot afgegaan het,” het hy vertel.

“Julle kon my darem gewaarsku het,” het hy gesê.

“Nee pastoor, net nog enetjie,” is aan hom gesê.

“Skiet en kry klaar,” was sy antwoord.

’n Oubasie met oorfoontjies het by een diens aandagtig geluister en was klaarblyklik die enigste een in die kerk wat met aandag meegedoen het.

“Die familie het duidelik nie belang daarby gehad nie.”

Met die uitstap, is ds. Boshoff meegedeel dat die Springbokke 10-2 voor was.

Hy het in KwaZulu-Natal, die Laeveld en Hoëveld as sendingpredikant diens gedoen en dis veral die eenvoudige aanbiddingstyl van die Azalea-gemeente wat hy nou agterlaat, wat tot die egpaar spreek.

“Ek is ’n afgetrede predikant, ’n pensioenaris,” het die man gesê wat nie gemaklik met die benaming ‘emeritus’ is nie.

Ds. Boshoff is ook ’n musikant en sal saam met sy seun, Willie, musiek maak soos die geleentheid hom voordoen.

Dié laaste opmerking het hom dadelik aan die gholfanekdote laat dink, waar sy een vriend gesê het hy is so bly dat sy inkomste nie van sy gholf afhanklik is nie.

“My inkomste is ook nie van my musiek afhanklik nie,” aldus ds. Boshoff.

Die agteruitgang op Standerton het ’n rol gespeel in die Boshoffs se besluit om te trek, maar ander oorwegings is ook in ag geneem.

“Ek wil nie Trichardt toe ry in die aand as my man iets sou oorkom nie,” het me. Boshoff opgemerk.

Die pastorie is ook te groot en die AGS se dominee en gesin sal in die huis intrek.

Dit was voorheen ook die pastorie van die N.G. Kerk se Versters.

Daar is weggegee en weggery en ’n duisternis bokse wag op die meubelvervoermense.

“’n Mens hoef nie so baie goed op te gaar nie,” was hulle mening.

Ds. Boshoff het die onderhoud op ligte noot afgesluit:

“Maandae is ’n dominee onverkrygbaar, vir die res van die week onsigbaar en Sondae onverstaanbaar.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button