Dit gaan voor die wind met Standerton se Dries Landsberg
Die neurochirurg het laggend bes gegee en gesê dat alles moontlik by Dries is.
‘n Man van Standerton se wonderbaarlike herstelpad getuig van ‘n onwrikbare geloof en vasberadenheid om ‘n breingewas die hoof te bied.
Mnr. Dries Landsberg se besoek aan die neurochirurg, dr. Piet Slabbert, op 26 Julie by Pretoria-Oos Hospitaal, is iets uit die boeke.
Dié verslag oor die breinskandering dui aan dat Dries se toestand nie vererger het nie, maar verbeter het.
Hy is wel nog bietjie van balans af, maar gebruik die rolstoel vir werksbesoeke.
Die neurochirurg se bevindings was ook dat sy bewussyn en kognitiewe funksies onderskeidelik geheel en al binne normale perke en hoog normaal is, wat ook vir sy motoriese en sensoriese funksies geld.
Dries wou die goeie nuus met die gemeenskap deel en het een doel voor oë.
“Ek wil weer loop,” het hy aan sy dokter gesê.
“Jy kan oefen, maar jou balans sal nooit regkom nie,” is gesê.
Dié antwoord het Dries nie van stryk gebring nie.
“Nooit is ‘n lang woord.”
Die Standerton Advertiser het vroeër berig oor Dries se gesondheid en eerste breinoperasie in 2010.
Sewe operasies later het dié man geensins ‘n kluisenaar geword nie.
Sy vorige ervaring in die lisensieafdeling by die munisipaliteit is aangewend om werk van die huis af te doen.
Dries was destyds genoodsaak om ‘n vroeë aftreepakket te neem.
Hy het die gemeenskap van Standerton, onbewus van wie en wat hulle is, bedank vir hul ruim finansiële bydraes met die eerste besoek aan dr. Slabbert.
“Ek het vir my vrou, Poppie, gesê ek hoop die geld, soos beloof, is daar,” het Dries vertel.
“Toe ek my bankkaart ‘swipe, was dit daar.”
Dries Landsberg se familiestrukture is gevestig, behoudend en opbouend.
Sy vrou, kinders en ander familielede het ‘n aansienlike rol in sy herstelproses gespeel.
Hy is nie van plan om vir rehabilitasie te gaan nie, maar wel van plan om dinge om sy eie manier te doen.
“Was dit nie vir my God nie, was ek nie hier nie,” het hy mee afgesluit.



