Secunda se ATKV stel bemoedigende boeke beskikbaar by Boere Mall
Skenk bemoedigende boeke aan organisasie.
Die ATKV se Kosmosrand-tak gaan op Saterdag, 28 Augustus, by die volgende Boere Mall by Lake Umuzi ’n boekhuisie hê waar boeke wat mense bemoedig, beskikbaar sal wees.
Die ATKV het vroeër vanjaar begin met ’n projek om boekhuisies op te rig waar die gemeenskap nuwe moontlikhede en wêrelde kan ontdek.
Die voorsitter van die tak, me. Tracey van Wyk, het vir jare lank boeke van bemoediging aan die onkologie-eenheid op Secunda geskenk en vir pasiënte beskikbaar gestel.
Dus het sy aan die idée gekom van boekhuisies en om dit op strategiese plekke op Secunda op te rig.
Sy het gesê belangstellendes wat ’n boek vir iemand wil gee wat deur ’n moeilike tyd gaan en bemoediging nodig het, kan dit op 28 Augustus by die Boere Mall by die ATKV se stalletjie gaan haal.
“Ek hoop ons kan sodoende meer mense bemoedig in dié moeilike tyd waarin ons almal tans lewe,” het me. Van Wyk gesê.
Mense wat bemoedigende boeke het wat hulle nie meer wil hê nie, kan dit aan die ATKV skenk vir die boekhuisie-projek.
“Ons wil regtig ’n verskil in mense se lewens maak.”
Die ATKV het ook troosboekies beskikbaar spesifiek vir kinders wat iemand aan die dood afgestaan het.
Vir meer inligting, of om ’n bemoedigende boek gratis te kry of te skenk, skakel me. Van Wyk by 074 103 6381.



