Geliefde boer in Ermelo verloor stryd teen Covid-19
Dié boer in murg en been sal onthou word as ’n man wat altyd hardwerkend was en sterk in sy geloof gestaan het.
ERMELO – ’n Bekende en geliefde boer van die omgewing het op 12 Augustus sy stryd teen Covid-19 verloor.
Mnr. Willem Joubert (74) is in die Mediclinic Ermelo oorlede.
Mnr. Joubert is ’n gebore Ermeloër en het sy skoolloopbaan by Hoërskool Ermelo voltooi.
Ná skool het mnr. Joubert vir nege maande weermagopleiding ondergaan, waarna hy by die Potchefstroom Landboukollege studeer het.
Sy dogter, me. Bernadine Taljaard, het vertel dat hy in die top twee van sy klas was.
Dié boer in murg en been sal onthou word as ’n man wat altyd hardwerkend was en sterk in sy geloof gestaan het.
Hy het altyd nuwe uitdagings voluit aangepak, en het met ’n liefde vir die aanhoudende vernuwing in die landboubedryf aan jong boere leiding gegee.
Sy liefde vir sy vrou, kinders en kleinkinders sal altyd deur sy familie gekoester word.
Hy word as ’n man wat lewenslustig, doelgerig en vredeliewend was, beskryf.
As pionier en in die landboubedryf was hy voor sy tyd met vele boerderymetodes, en het hy daarna gestrewe om nuwe metodes te ontdek.
Mnr. Joubert was in sy jonger dae ’n kranige rugbyspeler en het ook talle kere vir Ermelo Rugbyklub uitgedraf.
Lees die volledige berig oor mnr. Joubert in die Hoëvelder.



