Danie Roberts gee die pas by die Krisissentrum op Standerton aan
Hy kan altesaam 29 jaar in die versekeringsbedryf agter sy naam skryf waarvan 28 jaar by dieselfde versekeringsreus.
’n Man wat ’n plek gesoek het om diensbaar te wees, het dit by die Krisissentrum van die SAVF gevind.
Mnr. Danie Roberts het die voorsitterstoel van die sentrum ingeneem waar sy kundigheid en ondervinding aangewend word om die inwoners op die pad na selfstandigheoid te vergesel.
“Ek wou teruggee aan die gemeenskap,” het mnr. Roberts gesê.
“Ek het ’n passie vir minderbevoorregtes.”
Hy kan altesaam 29 jaar in die versekeringsbedryf agter sy naam skryf waarvan 28 jaar by dieselfde versekeringsreus.
Sy vrou, Jeanette, het donkiejare onderwys by Standerton Primary School gegee en ook as vrywilliger by die SAVF aangemeld.
Marike, hul dogter, het in ma se voetspore gevolg na buitelandse au pair-ondervinding en woon tans in Abu Dhabi, waar sy ’n onderwyser is, terwyl Danie (jr) na Malelane uitgewyk het en ’n elektriese onderneming bedryf.
Danie (sr) het op sy dag ook ’n ambag as elektrisiën by Sasol voltooi.
Dit is ongetwyfeld geen wonder nie dat ma en pa ’n draai of wat in die Kruger Wildtuin maak weens hul liefde vir die natuur.
“Ons het Marlothpark nou eers ontdek,” het Danie bygevoeg.
Dubai en Europa was oor die jare gewilde vakansiebestemmings en noem maar op, Switserland, België, Duitsland, Nederland, Pole, Oostenryk, Tsjeggiese Republiek tot by een land wat die kersie op die koek was.
“Slowenië was ongetwyfeld die mooiste land wat ek ooit gesien het.”
Voor daar van Spanje vergeet kan word, die Moto GP met Mark Marquez, sesmalige wêreldkampioen, is ’n groot trekpleister.
“Ek wil na hom in Spanje gaan kyk. Hy is my held.”
Danie het wat sport betref, sy gholfstokke maar aan sy seun gegee.
“Ek het nie die geduld om te sukkel nie.”
Dit is nie heeltemaal die waarheid nie siende hy die koördineerder van die projek vir Early Child Development (ECD) op Standerton was.
Gereelde werkwinkels is aangebied om die sertifikaatkursus van die Universiteit van Pretoria te voltooi, asook bykomende werkswinkels om vaardighede te ontwikkel.
Altesaam ses kleuterskole kon baat by dié projek vind.
“Daar was nagenoeg 30 mense by ’n werkswinkel.
“Covid-19 het ’n stokkie voor bedrywighede gesteek, maar ons sal volgende jaar weer aangaan.”
Tydens ’n reis het hy ’n groep mense wat sypaadjies skoonmaak, op Howick gesien en ’n idee het posgevat.
“Ek het besluit om so iets by die sentrum te begin.”
So gesê, so gedaan, alles is reeds in plek, borg inkluis.
Daar is nie naastenby ’n kans dat hy op finansiële gebied uit die bus gaan val nie, want hy is nou by aandeelverhandeling betrokke.
Moontlik kry hy die geleentheid om die gedagtes te laat gaan wanneer die 1200 CC Adventure Bike die pad aandurf.
“Ons is ’n informele groep van sewe wat die wêreld verken.
“Ons het verlede jaar om Lesotho gery en ’n Kaapse bergpastoer gedoen.
“Dit is ’n ander ding om op ’n fiets te sit en die omgewing te bekyk.”
Danie het ruiterlik erken dat hy al die jare gesê het dat hy vroeg wil aftree, wat toe gebeur het.
“Ek was gelukkig in die situasie om dit te kan doen.
“Dit het egter jarelange, deeglike beplanning geverg.”
Biografieë met ’n lekker koppie koffie of glas wyn is deel van die Robertspakket.
Die voorsitter van die Krisissentrum wou ten slotte ’n boodskap aan die gemeenskap oordra met die skoonmaakprojek wat nou momentum kry.
“Ons wil uitreik na die gemeenskap en hul vir die welwillendheid bedank.”




