Skrootwerf op Kinross se rook pla mense
Munisipaliteit sê hulle ondersoek tans dié probleem.
’n Skrootwerf in Dorfanstraat op Kinross, jaag inwoners en eienaars van omliggende ondernemings die harnas in.
“Hulle brand minstens een keer per week iets wat verskriklik stink en orals swart rook los,” het een van die eienaars van die omliggende ondernemings gesê.
“Dit is besoedeling en mag hulle ooit so ’n besigheid in die dorp hê?
“Is hulle nie veronderstel om dan in die industriële gebied te wees as hulle goed wil brand nie?” het die inwoner gevra.
Nog ’n inwoner het gesê sy het een keer in Dorfanstraat gery om haar kinders skool toe te neem en sy moes uitswaai toe daar ’n groot vragmotor by die skrootwerf gestaan het en van die metaal wat werkers besig was om met ’n groot masjien op die vragmotor te laai, bykans op haar motor geval het.
Mnr. Donald Green, hoof van kommunikasie van Govan Mbeki Munisipaliteit, het gesê dié saak is tans by die betrokke departement van die munisipaliteit vir verdere ondersoek.
Hy het verder gesê inwoners kan soortgelyke probleme aanmeld by die munisipaliteit deur die betrokke departement by 017 620 6327 te skakel of deur ’n e-pos te stuur na compliance@govanmbeki.gov.za.
Inwoners kan ook die munisipaliteit skakel by 0800 6000 01/2/4 of ’n WhatsApp-boodskap stuur na 083 790 0659 of ’n e-pos stuur na callcentre@govanmbeki.gov.za.





