Mia is Secunda-ouers se klein wonderwerkie
Egpaar wil graag toetse oorsee op baba laat doen.
Dit is ‘n wonderwerk dat Mia Potgieter (18 maande) nog leef.
Dié kleinding is op 30 Maart verlede jaar op 26 weke gebore – drie maande te vroeg – met verskeie probleme en dokters moes al verskeie kere kardiopulmonêre resussitasie (CPR) op haar toepas.
Sy is dadelik ná haar geboorte op ‘n asemhalingsmasjien en ander gekoppel.
Sy was eers in die N17 hospitaal op Springs en is later na Sandton Mediclinic oorgeplaas omdat daar ‘n oor-neus- en keelspesialis in Sandton was.
‘n Trageostomie-masjien help Mia ook om asem te haal en sy het ook permanent ‘n voedingsbuis in haar maag omdat sy nie kan sluk en self kan eet of bottel drink nie.
Klein Mia het ook ‘n IV-buis in haar been waardeur sy medisyne kry.

Dokters het dadelik ná Mia se geboorte vermoed dat sy Downsindroom het omdat haar gesig trekke daarvan toon, soos haar verhemelte wat gesplete is en haar neusbrug wat plat is.
Sy het egter negatief getoets.
Toe sy net twee weke oud was, het sy bloeding op die brein gekry en me. Potgieter moes vorms teken dat sy bewus is van Mia se toestand en dat die hospitaalpersoneel haar ingelig het dat Mia sou doodgaan.
Mia het egter baklei om te lewe en bring vandag vreugde in haar ouers se lewe hoewel sy serebraal gestremd is.
Mia moes die eerste vier maande van haar lewe in die intensiewe sorg-eenheid van die hospitaal deurbring en haar ouers, mnr. Marnes en me. Ria Potgieter, het daagliks Springs toe gery om haar te besoek.
Mia het die eerste nege maande van haar lewe in die hospitaal deurgebring en in dié tyd het haar longe verskeie kere platgeval, sy het meer as een keer septisemie opgedoen, sy het breinvliesontsteking gekry en haar niere het ingegee.
Op ‘n stadium was Mia vir vyf dae sonder die asemhalingsmasjien en haar lyfie het toe begin ingee.

Toe sy septisemie gehad het, het dokters het vir die egpaar gesê hulle kan niks meer vir haar doen behalwe om antibiotika te gee nie.
Dié jong vegtertjie het egter ‘n paar dae later beter geword.
Sy moes ook ‘n operasie kry om haar tong kleiner te maak.
Omdat haar kakebeen en nek kleiner is as ‘n normale mens s’n en nie normaal ontwikkel is nie, het sy haar tong gesluk en dit het verhoed dat sy kon asemhaal.
“Sy het erg gelyk na daardie operasie, haar oë en tong was opgeswel,” het mnr. Potgieter vertel.
In die tydperk het die hospitaalpersoneel ook een keer vir mnr. Potgieter laat weet hy moet sy baba gaan groet, sy gaan dit nie maak nie.
Mia het egter deurgedruk en is vandag in haar ouerhuis.
Toe sy in die hospitaal was, het dokters haar suurstof probeer verminder om te kyk of sy op haar eie sou kon asemhaal, maar sy kon nie en is nou by die huis steeds permanent aan ‘n asemhalingsmasjien, onder andere, gekoppel.
Die gesin het Kersfees in die hospitaal deurgebring en op 28 Desember kon Mia uiteindelik huis toe gaan.
Die Potgieters moes twee voltydse versorgers aanstel om Mia te versorg sodat hulle genoeg slaap snags kan inkry en steeds bedags werk.
Me. Potgieter is ‘n onderwyser by Laerskool Trichardt terwyl mnr. Potgieter as proseskontroleerder by Sasol werk.
Die egpaar moes leer hoe Mia se masjiene werk sodat hulle later self die buis van haar tragi kon ruil en in ‘n noodtoestand kardiopulmonêre resussitasie kan toepas.
Sy sukkel nou met epileptiese aanvalle en is reeds op vier soorte medikasie vir dit.

“Ons kan niks meer doen om haar te help nie,” het mnr. Potgieter gesê.
Me. Potgieter het gesê hulle hou haar so gemaklik as moontlik en gee haar baie liefde.
Volgens dokters is Mia se verwagte lewensduur sowat vier jaar.
“Ons vat dit dag vir dag en geniet dit tyd wat ons met haar het,” het mnr. Potgieter gesê.
“As sy gelukkig lyk, is ons gelukkig.”
Sekere dele van Mia se brein het nie heeltemal ontwikkel nie en dokters verwag dat sy vir die res van haar lewe op die asemhalingsmasjien en ander masjiene gekoppel sal wees.
“Daar is ‘n rede hoekom die Here ons gekies het om haar ouers te wees en ons is lief vir haar net soos sy is,” het me. Potgieter gesê.
“Ons weet ons is op geleende tyd met haar.”
Mia klassifiseer as erg serebraalgestremd en die oppassers moet ook hul storie ken om na haar om te sien.
“Ria wou nog altyd daarin spesialiseer om kinders wat spesiale leerbehoeftes het, te help, min het ons toe geweet dat ons ons eie baba sou kry wat glad nie sal kan leer nie,” het mnr. Potgieter gesê.
Die egpaar wil graag genetiese toetse laat doen om te kyk of Mia se toestand geneties van aard is en dan sodoende ‘n aanduiding kry of, as die egpaar nog kinders kry, hulle ook die toestand sal kan kry, maar die toetse word net oorsee gedoen en kos duisende rande.



