Hillel Coetzer van Standerton gee iets weg oor sy ondervindinge
“Die hoofrede waarom ek teruggekeer het, was die klagtes oor die agteruitgang van die dorp,” het Hillel gesê.
Hillel Coetzer van Standerton skop viervoet vas as hy eers ’n besluit geneem het.
Daar word voluitgegaan of dit nou is om as algemene arbeider vir ’n konstruksiemaatskappy in London te werk, in te val by die enigste Spur, terug te keer na Suid-Afrika, ’n munisipale rioolrekening op die dorp te bevraagteken, aan te sluit by ’n burgerregteorganisasie, of sy eie nie-winsgewende organisasie te begin.
Hillel het in 2006 aan Hoërskool Standerton gematrikuleer en aanvanklik sy stiefpa op die plaas bygestaan.
Met sy verblyf in Leytonstone, London was die aantal Suid-Afrikaners wat hy teëgekom het, verrassend baie.
“’n Mens dink amper jy is in Suid-Afrika,” het Hillel gesê.
Die konstruksiemaatskappy het gevou en Hillel het begin werk soek in die Britse hoofstad.
Die eerste vraag was gewoonlik wat jou nasionaliteit is.
Die restaurantondervinding het vier maande geduur.
Hillel het die kommunelewe en naglewe terdeë geniet en definitief na Mrs Balls en biltong verlang.
Eers toe ’n vriend einde 2008, begin 2009 skakel, is die terugtog aangepak.
“Tjom, jy moet huis toe kom,” is aangedring.
Die uitvoerende hoof van Northern Light Foundation is van mening dat ’n oorsese blyery van waarde is omdat ’n groot les daaruit te leer is.
“Suid-Afrika is nie so sleg soos wat hulle sê nie.”
Hy is in ’n stegie aangeval deur Londonse niksnutte, tussen 10 en 12 jaar oud.
Met sy terugkeer na die gastehuis op Standerton, het hy die noodsaak van ’n gemeenskapsorganisasie besef, woord by die daad gevoeg en die AfriForum-tak in 2012 gestig.
Hy is deeglik onderrig in die organisasiestrukture van takvoorsitter na distrikskoördineerder, tot veiligheidshoof van die noordstreek.
Dié streek sluit Limpopo, Gauteng en Mpumalanga in.
Dit is veral plaasaanvalle wat ’n onuitwisbare indruk op hom gemaak het en soms nog spook, as hy die gebeure onthou.
“Die hoofrede waarom ek teruggekeer het, was die klagtes oor die agteruitgang van die dorp,” het Hillel gesê.
“Daarbenewens is daar my sakebelange, wat ook aandag verg.”
Verhoudinge tussen hom en AfriForum het nie sodanig versuur dat dit gevestigde vriendskappe vernietig het nie.
Sy volwaardige nie-winsgewende organisasie is deur die administratiewe proses en geregistreer.
’n Databasis is op die been gebring en sosiale media vir genoegsame blootstelling verken.
Met persoonlike kontak vergewis hy hom van die werklike omstandighede, omdat ’n stel of twee al met kansvatters afgetrap is.
Hy slaan deursigtigheid en eerlikheid hoog aan as die hoekstene waarop ’n mens moet funksioneer.
Met sy diepgewortelde geloof van kleinsaf ingebed deur sy ouers, albei destyds pastore in die Volle Evangelie Kerk, pak hy die nuwe hoofstuk aan.
“My gawe is om mense te help,” het hy mee afgesluit.