Rayton-kunstenaar is nou ook ’n grofsmid
Sy eerste handgemaakte staal-item was ’n fotoraam. Hy kon sedertdien nog nie die staal neersit nie.
“Dit is vir my wonderlik om ’n stukkie staal wat so te sê weggegooi sou word te omskep in iets wat vir iemand weer iets kan beteken soos ’n ring of ’n hak vir ’n braaitang. Iets wat nou mooi is en iets wat mens kan gebruik.”
Só vertel Albert Botha, ’n grofsmid in Rayton wat eintlik ’n gebore kunstenaar is.
Hy het vier jaar gelede die besluit geneem om sy kuns op ’n ander manier uit te leef.
Soos hy die staal in sy hande kon hervorm, het sy aanvoeling daarvoor gegroei.
“Ek is eerstens ’n kunstenaar en tweedens ’n grofsmid. Ek werk ook met ander mediums soos klip en hout, maar staal is gunsteling-medium.”
Botha kyk met ’n oog wat die potensiaal in ’n stukkie staal oopsluit en sy hande doen net die afronding wat reeds in sy visuele brein geskep is.
Die materiaal wat hy gebruik is meestal staal, maar verkieslik die harde stale wat bekend staan as hoë koolstofstaal.
“Hierdie vorm van staal is die mees interesant en lekkerste om mee te werk,”het hy laat hoor.
Hy is nie die allerdaagse grofsmid nie.
Kuns is in sy bloed en dus is sy staalwerk oorspronklik en uniek.
Sy eerste handgemaakte staal-item was ’n fotoraam. Hy kon sedertdien nog nie die staal neersit nie.
“Ek maak meestal bruikbare kunsvoorwerpe. Om kuns bruikbaar te maak, is nie altyd maklik nie, maar met staal as my medium is dit vir my moontlik,” het Botha vertel.
Daar is drie aspekte waarna hy kyk terwyl die kreatiewe gedagtes nog in sy kop broei.
“Die staal se sterkte, hoe funksioneel dit is en hoe interesant die staal voorkom is vir my die belangrikste.
“Die staal moet my interesseer om met dit te wil werk en daardie eienskap van interessantheid gaan nooit weg nie. Die item lyk gereeld anders as jy dieper kyk.”
Hitte speel ’n groot rol in die maakproses van elke item.
Botha het ’n oop antrasiet-verwerker. Hy beplan wat hy wil maak en dan sny hy soms die staal in kleiner stukke.
Sodra die staal rooiwarm is, vorm hy dit met hammers op ’n aambeeld tot dit in die regte vorm is.
Daarna kan hy dit vinnig of stadig laat afkoel, afhangend van die soort staal waarmee hy werk.
Die afkoelproses het ook ’n uitwerking op die hardheid van die staal.
“Die staal word behandel met ’n olie of byewas.
“Ná ’n ruk kry die staal ’n permanente beskermde lagie wat Patina genoem word. Die hoë koolstofstale is die staal wat verhard kan word.
“Dit is die soort staal waarmee gehalte messe gemaak word,” het hy bygevoeg.
Botha se skepping is voorwaardelik kuns.
Daar is geen masjiene wat die staalwerk glad skuur nie. Hy los die hammermerke op die staal, want volgens hom bring dit die karakter van die staal na vore.
“Ek plaas selfs ook doelbewus merke op die staal om dit ’n rowwe, tog egalige afwerking te gee.
“Dit is immers handgemaak. Dit is nooit perfek in die definisie van die woord nie, maar dit is perfek vir my.
“Die messe is hard en skerp en hulle kan doen waarvoor hulle gemaak is, maar hulle is ook interesant en kunstig,” het hy verduidelik oor sy boodskap met sy staalwerk.
Sy werk soos hy dit beskryf, moet iets wees wat mens nodig het, wat mens kan gebruik, maar ook iets waarna mens twee keer kan kyk.



