Gulde kans vir vertoning van Nataniël op Standerton
“Stadsgehore is regtig in die middel van die skaal. so-so en plattelandse gehore is een van die twee uiterstes, fantasties of verskriklik.”
Die vermaaklikheidskunstenaar en skrywer, Nataniël, sal op 17 Augustus om 18:00 by Hoërskool Standerton ’n vertoning lewer.
Nataniël is sowat 40 jaar in die bedryf, met sy sololoopbaan wat oor 37 jaar strek en het as skrywer hom ook onderskei en 24 publikasies die lig laat sien.
Die pianis, Charl du Plessis sal sy begeleiding waarneem en hul paaie het 22 jaar gelede gekruis.
“Ek het ’n begeleier gesoek en uiteindelik die Universiteit van Pretoria gebel en gevra wie is klassiek opgelei, maar kan enigiets speel,” het Nataniël gesê.
“Almal het gelyk geskree, Charl du Plessis!
“Hy was so ’n wilde kindjie wat kliphard gelag het en met die eerse ontmoeting het ons dadelik ’n lied saamgedoen en kort daarna die eerste vertoning.
“Die res is geskiedenis.”
Op die vraag of plattelandse gehore enigsins verskil van ’n gehoor in die stad, het Nataniël soos volg geantwoord.
“Stadsgehore is regtig in die middel van die skaal. so-so en plattelandse gehore is een van die twee uiterstes, fantasties of verskriklik.
“Dit verskil van dorp tot dorp, geen mens kan dit voorspel nie.
“By my konserte tree hulle ook anders op as by ander kunstenaars, want hulle is ook nooit seker wat om te verwag nie.
“Maar mense is dankbaar en bly dat ek nog na die verste uithoeke reis.”
’n Paar wenke dalk vir die gehoor se uitrustings?
“Ek hoop die mense gaan ‘dress and press’.
“Ek is dankbaar vir gehore met mooi klere en veral as die mans nie kinderklere aan het nie!
“Daar is baie mense wat dink kortbroeke en gemaklike skoene is aanvaarbaar by ’n vertoning!
“Die mensdom lyk al hoe slegter, ons het die sin vir geleentheid en ‘beste’ lankal verloor.
“Maar by elke konsert is daar altyd een of twee wat met ’n perfekte uitrusting uitstaan.”
Kaartjies is beskikbaar teen R250 by Kerkstraat 50.



