Twee broers van Secunda stap weer vir liefdadigheid
Hendrik (71) en Johan Keyser (65), gaan vanjaar vir vyf dae in ’n ry daagliks 30km stap.
Die N.G. Kerk Goedehoop-gemeente bied weereens vanjaar, in samewerking met die gemeenskap, die Ligdraer-projek op Secunda aan.
Dié projek is verlede jaar vir die eerste keer aangebied en die twee broers, Hendrik (71) en Johan Keyser (65), gaan vanjaar vir vyf dae in ’n ry daagliks 30km stap om geld in te samel vir behoeftige mense.
Dit is ’n gemeenskapsprojek en belangstellendes is welkom om saam met die broers te stap of te help deur enige nie-bederfbare kos by Redemptive Coffee, oorkant die eendedammetjie, te gaan aflaai of om geld te skenk.
Die Keyser-broers begin op 13 Maart om 06:00 vanaf die eendedammetjie stap en belangstellendes kan hulle in die parkeergebied ontmoet en die eerste 3km om die eendedammetjie saam met hulle stap.
Hulle gaan dan vanaf Maandag tot Vrydag, 17 Maart, daagliks om 06:00 in die eendedammetjie se parkeergebied begin en die amptelike oorhandinging vir die projek vind op 17 Maart die aand by die NG Kerk Goedehoop-gemeente plaas.
Liné de Vries, koördineerder van dié projek, het gesê hulle het spesiaal geel en rooi hemde vir die twee broers laat maak sodat motoriste hulle mooi kan sien.
LEES OOK: Veelsydige predikant by Wes-gemeente op Standerton vertel hoe alles gebeur het
Wat vanjaar se projek nog meer spesiaal maak vir die twee Keyser-broers, is dat hul suster, wat in Krugersdorp bly, hulle gaan vergesel tydens hul staptog en saam met hulle gaan kom stap.
Die gemeenskap en ondernemings, kan die broers per dag, per kilometer wat hulle stap borg, of vir die hele week.
Elke onderneming wat ’n bydrae maak, gaan ’n vlaggie ontvang. Die organiseerders mik om vanjaar R100 000 vir liefdadigheid in te samel.
Hulle het verlede jaar sowat R60 000 met dié projek ingesamel.
Die geld gaan aan verskeie liefdadigheidsorgansiasies of plekke wat ’n behoefte het in die omgewing, geskenk word.
Vir meer inligting, of om betrokke te raak of ’n donasie of skenking te maak, skakel Liné de Vries by 082 786 0134.



