Laerskool Sundra vier 83ste bestaansjaar
“Van ons leerders is van die tweede- en derde generasie wat hul opvoeding by Laerskool Sundra ontvang; net nog ’n bewys dat ons hier by Laerskool Sundra een groot familie is”.
Met 122 leerders en drie personeellede het Laerskool Sundra se ryk geskiedenis op 5 Februarie 1940 begin.
Drie-en-tagtig jaar later op 6 Februarie 2023 het die skool ‘n groot verjaarsdag gevier.
Die verjaardagkoek het in die vorm van kolwyntjies gekom en al die leerders en onderwysers het heerlik en in feestelike gemoed saam gesmul.
Volgens oorlewering is Laerskool Sundra 83 jaar gelede as goewermentskool gestig. Daar was drie leerkragte, CJ Wolfaardt was die waarnemende hoof en as onderwysers het SM Stander en VA Liebenberg diens verrig.
Die heel eerste persoon wat as permanente hoof aangestel was, was JA Barnard.
Die Waaikraalskool was op 16 Mei 1953 aan die ouer-onderwysersvereniging geskenk. Die geboue is gesloop en met dié materiaal was die mediasentrum en gimnasiumsaal gebou.
Sundra word net ’n laerskool nadat die hoërskool op 15 Januarie 1956 afstig. Verder in Maart 1961 stig ook Welgedacht af en Sundra se leerdertal verminder na 530.
Tinus Cremer neem gedurende 1998 die leisels as skoolhoof van Laerskool Sundra op. Met inagneming van drie jaar as waarnemende hoof het Cremer vir 25 jaar aan die stuur van sake by dié skool gestaan.
Gedurende die jare 2000 tot 2010 wissel die leerdertal tussen 220 en 275. Die personeelkorps het uit die skoolhoof, departementshoof, sewe onderwysers, twee kantoorpersoneel en drie terreinpersoneel bestaan.
Die eerste Graad Een Engelsmediumklas kry sy ontstaan op 10 Januarie 2011 en van toe af het Laerskool Sundra as ’n parallel medium skool bekend gestaan.
Die skool het gegroei en in 2018 het die skool oor die skoolhoof, 18 onderwysers, drie kantoorpersoneellede en vyf terreinpersoneel beskik. Die leerder tal was 474.
Die skool se groei het egter nie daar gestop nie en vanjaar, tydens hul 83ste verjaarsdagviering, spog Laerskool Sundra met 535 leerders, 22 onderwysers, drie vroue beman die kantoor en ses algemene werkers sorg vir die algemene instandhouding van die skool.
Vanessa van Rooyen, ook bekend as kaptein in Laerskool Sundra geledere, is tans die skoolhoof.
Laerskool Sundra spog ook met vyf oud-leerders, Amelia (Du Toit) Olivier, Marieta (Tromp) du Toit, Elisna (Olivier) van Niekerk en Carien (Brits) Vermaak, wat nou by hul Alma mater skoolgee.
“Van ons leerders is van die tweede- en derde generasie wat hul opvoeding by Laerskool Sundra ontvang; net nog ’n bewys dat ons hier by Laerskool Sundra een groot familie is. Elke personeellid, leerder en ouers is trots om Laerskool Sundra hulle skool te kan noem. Ons bou vorentoe aan die hand van God wat elkeen van lei.”






