Local newsNewsStreeknuus

Helpende Hand op Bronkhorstspruit wil kwesbares beskerm

Die publiek word aangemoed om die veldtog op Helpende Hand se Facebookblad (Helpende Hand – Deel van die Solidariteit Beweging), Instagram, en webtuiste (www.helpendehand.co.za) te volg vir meer inligting en hoe om betrokke te raak.

Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers kry die afgelope tyd baie navrae vanuit die gemeenskap oor die proses van maatskaplike aanmeldings rakende mishandeling en verwaarlosing van kinders, bejaardes, en persone met gestremdhede.

Christia Potgieter, ’n maatskaplike werker en hoof van Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplike Dienste het gesê weens die groeiende vraag na duidelike aanmeldingsriglyne en ondersteuning vir besorgde gemeenskapslede, het Helpende Hand se Maatskaplike Dienste vanjaar ’n openbare opname op sosiale media gedoen.

Die meerderheid van die deelnemers het aangedui hulle bewus is van hul plig om aanmeldings te maak, maar die helfte het ook gesê hulle is onseker oor die plek waar hulle dit behoort aan te meld.

“Hoewel meeste van die deelnemers bereid is om aan te meld en die siening deel dat die gemeenskap betrokke moet raak, het die helfte van die deelnemers aangedui dat hulle meer inligting wil ontvang oor die aanmeldingsproses,” het Potgieter gesê.


LEES OOK: Rinus Fourie van Standerton sukkel om sy seun se dood te verwerk


“Daarom het Helpende Hand sy Wil om te Help-veldtog van stapel gestuur om bewusmaking te skep, waarop die gemeenskap se aandag gefokus word op die belangrike rol van die sorg en beskerming van kwesbare groepe.”

Hierdie veldtog se doel is om gemeenskapsbetrokkenheid aan te moedig en begrip te bevorder oor die individu se verantwoordelikheid binne die gemeenskap.

“Ons het gemeenskapslede met kennis toerus oor hoe om toe te tree wanneer daar ’n behoefte is om kwesbare groepe te beskerm.”

Hierdie sluit onder meer die korrekte stappe tydens die maatskaplike aanmeldingsproses in.

“Helpende Hand is toegewyd tot die bemagtiging van die gemeenskap deur inligting en begeleiding, en sodoende ’n positiewe impak op die gemeenskap te maak deur hierdie veldtog.

“Saam kan ons ’n verskil maak in die beskerming van kwesbare gemeenskapslede.”

Ter aansluiting by die veldtog gaan Helpende Hand ook in samewerking met Solidariteit se Beroepsnetwerke eer betoon aan toegewyde maatskaplike werkers deur hul jaarlikse Hoopdraer Toekennings.

Die publiek word aangemoed om die veldtog op Helpende Hand se Facebookblad (Helpende Hand – Deel van die Solidariteit Beweging), Instagram, en webtuiste (www.helpendehand.co.za) te volg vir meer inligting en hoe om betrokke te raak.

Internasionale Maatskaplikewerker Dag word wêreldwyd elke derde Dinsdag van Maart gevier. Dié dag word opsy gesit om die bydrae van maatskaplike werkers tot die welstand van individue, gesinne en gemeenskappe regoor die wêreld te erken en uit te lig.

Vir meer inligting, kontak vir Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werker, Bianca Steyn op 084 517 4580.

Related Articles

 
Back to top button