Local newsNewsStreeknuus

Sekuriteitsbeampte van die Delmas omgewing agter tralies vir beweerde moord

Die polisie het die hulp van ’n lid van die gemeenskap ingeroep en met behulp van ’n hommeltuig is die liggaam van ’n man, sowat 200m vanaf die skiettoneel in ’n sojaland gevind.

Wessel Badenhorst (55) het op 25 Maart in die Delmas Landroshof verskyn op aanklagte van moord en poging tot moord.

Die borgaansoek is tot 3 April uitgestel wanneer Badenhorst weer in die Delmas Landroshof sal verskyn om formeel om borgtog aansoek te doen.

Badenhorst bly in aanhouding in die Modderbee Gevangenis. Buite die hof het sowat 200 ontstoke lede van die gemeenskap bymekaargekom.

Die inhegtenisname van Badenhorst, ’n senior sekurteitsbeampte in diens van ’n bekende boerderygroep in die Argent-omgewing, het skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap gestuur.

Badenhorst is ook bekend in veiligheidskringe in die Argent- en Delmas-omgewing. Hy is in die laatnag van 22 Maart in hegtenis geneem vir die beweerde moord op Makatabula Mdumiseni Hlope (44) asook poging tot moord op ’n vrou, onbekend aan Streeknuus.

Baie weergawes rondom die nag se gebeure doen die rondte, maar volgens die polisie was die Delmas SAPD omstreeks 22:45 gekontak oor ’n skietery op die plaas Dwarsfontein.

Met die polisie se aankoms was mediese personeel reeds op die toneel. Badenhorst was ook op die toneel, glo met ’n vuurwapen in die hand, aangetref.

Volgens die polisie was daar twee voertuie op die toneel. Die een voertuig, ’n dubbelkajuit Toyota Hilux, het vyf koeëlgate in die voorruit gehad en binne die bakkie het ’n vrou met veelvuldige beserings op die sitplek gelê.

Die tweede voertuig was glo geïdentifiseer as die voertuig waarmee Badenhorst gery het. Gerugte doen die rondte dat dié vrou veelvuldige skietwonde gehad het, maar ’n betroubare bron het Streeknuus meegedeel dat die slagoffer wonde, vermoedelik weens skrapnel en glasstukke, opgedoen het.

Dié vrou het aangedui sy het saam met ’n man gery, maar het geen idee gehad waar die man hom op daardie stadium bevind het nie.

Intussen is daar glo sowat vyf patroondoppies in die onmiddellike omgewing van die bakkie opgemerk. Die polisie het verder die hulp van ’n lid van die gemeenskap ingeroep en met behulp van ’n hommeltuig is die liggaam van ’n man, sowat 200m vanaf die skiettoneel in ’n sojaland gevind.

Volgens die polisie het die man met sy gesig na onder gelê en het hy glo veelvuldige skietwonde, hoofsaaklik in die bors gehad.

Die slagoffer is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar. Die vroulike slagoffer is per ambulans na ’n hospitaal vervoer. Die rede vir die skietery is nog onbekend.


Related Articles

 
Back to top button