Local newsNews

Vrou getuig van wonderwerk by vroue-oggend op Trichardt

Belangstellendes is welkom om Koinonia Christelike Kerk se dienste by te woon.

Die Koinonia Christelike Kerk het op 6 April ’n vroue-oggend aangebied waar Rinda van Zyl haar getuienis van hoop gegee het.

Rinda het vertel hoe ’n pot olie op die stoof een Sondagoggend in haar dogter se gesig ontplof het en hoe hulle met haar hospitaal toe moes jaag.

Rinda het, terwyl haar dogter in die teater was en dokters gekyk het wat hulle vir haar kon doen, buite die teatersaal op haar maag gelê en bid vir haar kind.

’n Paramedikus het uitgekom en vir haar gesê dit lyk glad nie goed nie.

Sy onthou hoe haar kind, wat met verbande toegedraai was, se gesig geswel was en hoe sy vir drie dae aanmekaar geskreeu het van die pyn.

Die dokters het Rinda meegedeel dat hulle nie haar gesig sal kan red nie, maar sy het bly glo en bid vir haar kind.

“God is ’n liefdevolle Vader en Hy kan genees,” het Rinda vertel.

“Ek het bly bid dat Hy haar lewe en haar gesig moet spaar en Hy haar uit die doderyk gaan haal.”

Toe die dokters die verbande afhaal, het haar dogter se gesig so goed gelyk dat dit nie eers nodig was om aan haar gesig te werk nie.

“Ons dien ’n wonderlike God,” het Rinda afgesluit.

Haar suster, Marilé van Zyl, wat die vroue-oggend gereël en aangebied het, het gesê die Here wil ’n mens se alles hê en nie net ’n bietjie nie.

“As jy 03:00 in die oggend wakker word en jy weet nie wat om te doen nie, gaan bid dan; die Here wil met jou bemoeienis maak,” het Marilé gesê.

Haar ander suster, Petru Nel en haar dogter, Yolané Nel, het die vroue bedien met sang.

Die Koinonia Christelike Kerk bied ’n lootjiekompetisie aan waartydens een gelukkige wenner ’n biltongruiker ter waarde van R1 000 kan wen asook ’n koopbewys by ’n restaurant op Trichardt vir R500 of melkskommel koopbewyse van R286.

Om in te skryf vir dié kompetisie, koop ’n lootjie vir R50 en besoek die Koinonia Christelike Kerk se Facebook-blad vir verdere instruksies.

Die kompetisie duur tot 8 Mei en die gelukkige trekking vind op 11 Mei plaas.

Die Koinonia Kerk het geskuif vanaf Terra Nova Aftree-oord na ’n gebou in Paul Krugerstraat op Trichardt.

Belangstellendes is welkom om dié kerk se dienste wat Sondae om 09:00 en 18:00 begin, by te woon.



LEES OOK: Evander Police arrest mom who dumped her baby

LEES OOK: Evander SAPS nab third suspect in case where two men were allegedly murdered on a farm

Related Articles

 
Back to top button