Local newsNews

AfriForum se groentetuin op Bethal lewer tamaties op

Inwoners baat by organisasie se projek.

BETHAL – AfriForum se plaaslike tak het weer eens vanuit die groentetuin wat dié organisasie reeds in 2021 begin het, groente gekry.

Hulle het 260kg tamaties aan plaaslike organisasies geskenk. Vandat dié tuin begin is, het hulle al spinasie, tamaties en uie aan behoeftiges voorsien.

Marilé Nieuwoudt, koördineerder van AfriForum se groentetuinprojek in Bethal, sê die jongste oes is opgedeel en aan die Bethal-sopkombuis, Silwerjare Ouetehuis en Palmoord Leefstyl Sentrum vir Bejaardes, geskenk sodat talle behoeftige gemeenskapslede hieruit kan baat.

“Dié projek ondersteun die gemeenskap wanneer omstandighede swaar druk op hul plaas,” het Nieuwoudt gesê.


LEES OOK: AfriForum op Bethal en boere voorsien water aan mense


“Die Bethal-tak bly daartoe verbind om hand by te sit en ’n verskil in die gemeenskap te maak.”

Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het gesê die groentetuinprojek is met die oog op volhoubaarheid van stapel gestuur, daarom word daar grotendeels groente geplant wat ekonomies is én iemand versadig sal laat.

Die projek word ook ondersteun deur inwoners en boere van die omgewing wat gereeld donasies in die vorm van kunsmis en ander benodighede maak.

Volgens Bekker het die groentetuin by kere al soveel groente gelewer dat dit selfs buite die Bethal-gemeenskap aan organisasies en kinderhuise geskenk kon word.

“Projekte soos dié wat werk skep en op ’n volhoubare wyse voedsel produseer is noodsaaklik vir gemeenskappe wat poog om selfstandig te word,” het Bekker gesê.

Related Articles

 
Back to top button