Local newsNewsStreeknuus

R50-pad vorder, maar stof versmoor Delmas

“Ons kan maar vrae vra, ons kan gegronde aantuigings maak, ons kan die munisipaliteit, ons raadslede, die media, die departement van gesondheid of selfs die staatspresident kontak, ons gaan nie antwoorde kry nie en die probleem gaan nie weggaan nie.”

Die bou en verbeteringe aan die R50-pad by Delmas vorder, maar inwoners kla dat hulle siek is van die stof.
Nie meer net siek vir die alewige fyn swart poeierlaag stof wat alles bedek nie, maar ook fiesies siek, want die stof blyk nou ook sinus- en lugweginfeksies te veroorsaak.

Streeknuus het by verskeie inwoners wat direk aan die R50-pad woon om kommentaar aangeklop en die antwoorde was byna almal dieselfde.

“Ons kan geen meer van ons vensters of deure oopmaak nie, maar dit help ook nie eintlik om dit toe te hou nie, want die fyn stof syfer orals in.

“Ek het opgehou om my swembad skoon te maak. Dit lê bedek met ’n laag swart slyk. Sou die pad eendag klaarkom, gaan dit my derduisende rande kos om my swembad weer bruikbaar te kry,” het ’n inwoner vertel.

“Die apteke op die dorp maak seker goed geld met die verkoop van allergie- en sinusmedisyne. Ek is een van dié wat hulle ondersteun, want daarsonder kan ek nie meer nie. Die pad moet nou klaarkry, dit maak ons mense siek,” het ’n ander inwoner gesê.

“Ons het ’n wit hondjie en selfs dié is pikswart – ons kan tog nie die hondjie heeldag binnehou nie. Hy word gereeld gebad, maar een draai buite en hy is byna pikswart,” het nog iemand genoem.

“Dit help nie om af te stof of selfs vloere te was nie – die poeier is bitter fyn en trek in alles in,” is nog ’n klagte.

“My motor slaap onder ’n afdak, ek moet elke oggend my kar afspuit voordat ek werk toe kan ry, want ’n mens kan nie deur die windskerm sien nie.”

“Ek moet die pad daagliks ry na my werk toe en terug en glo my, jy kan soms nie ’n hand voor jou oë sien nie. Dit is lewensgevaarlik vir motoriste op daardie pad.”

Dit was enkele van die klagtes wat ontvang is, maar Delmassers kla ook oor vensterbanke, stoepe, en selfs plante bedek met die swart laag en gesinslede moet permanent skoene dra, want kaalvoet kan jy nie eers meer loop nie.

Streeknuus het in die uitgawe van 15 Maart berig oor die gedurige swart stoflaag wat alles bedek en byna permanent in die lug hang.

Die swart stof is steenkoolstof wat vanaf ’n nabygeleë oopgroefmyn afkomstig is en gebruik word om die verbypad /ompad mee te vul terwyl kontrakteurs aan die R50 werk.

Streeknuus het verder berig dat die mening van kenners is dat dié steenkool afvalmateriaal nooit die myn mag verlaat het nie.

Dit was toe, maar steeds dra die publiek en veral inwoners van Uitbreiding Twee op Delmas sowel as inwoners van Uitbreiding Vier swaar aan die las van die ewige swart stof wat alles bedek en dag vir dag vererger.

Streeknuus het verder verneem daar was meer van hierdie fyn steenkool op die R50/R42-kruising afgelaai en die vermoede bestaan dus dat daar voortgegaan sal word om die materiaal vir die vul van die ompad te gebruik soos die konstruksie van die pad vorder.

Streeknuus kon steeds nie met die eienaar van die myn wat na bewering die steenkoolmateriaal vir die vul van die ompad voorsien het, kontak maak nie.

Soos een ontstoke inwoner van Uitbreiding Vier aan Streeknuus gestel het, “Ons kan maar vrae vra, ons kan gegronde aantuigings maak, ons kan die munisipaliteit, ons raadslede, die media, die departement van gesondheid of selfs die staatspresident kontak, ons gaan nie antwoorde kry nie en die probleem gaan nie weggaan nie.

“Winter is op pad, die reënseisoen is verby en ons mense is nou al siek. Ons sal maar net daarmee moet saamleef totdat die pad eendag klaar is. Ons land het nie meer wette nie en elkeen wat by die onwettighede van die pad betrokke is, is familie of vriende van mekaar – dit is net nog een groot korrupte bedrogspul.

“Dit is nou maar net bid dat dit klaarkry en ons weer buite en binne ons huise normaal kan leef.”


Related Articles

 
Back to top button