Delmas VLU raap pryse op tydens prysuitdeling
Brits het lede en besoekers rondom die belangrikheid van goeie oefening, wat in essensie die liggaam versterk en soepel maak, ingelig.
Die VLU Delmas-tak het op 16 April in die saal van die Hervormde Kerk op Delmas vir hul maandelikse vergadering bymekaargekom.
Jané Oosterhuis het weer die stoel in die afwesigheid van die voorsitter, Marié Terblanche, waargeneem.
Twee nuwe lede, Elna Kruger en Elma Labuschagne, was verwelkom.
Oosterhuis het ’n goeie goeie dosis van gesondheid en energie in die April vergadering ingeblaas deur vir Hanneke Brits te nooi om vir die vroue ’n Pilates oefenklas aan te bied.
Brits het lede en besoekers rondom die belangrikheid van goeie oefening, wat in essensie die liggaam versterk en soepel maak, ingelig.

Die vroue het ‘n bietjie gesteun en gekreun tydens die Pilates klas, maar het agterna saamgestem dat hulle daarna meer ontspanne was.
“Dit was nogal baie van pas so net voor die winterkoue ons in sy kloue beetkry,” het die skakelbeampte, Magriet Swart, laat hoor.
Met die prysuitdeling as hoogtepunt het Oosterhuis die formaliteite vining deurgedraf. Onder lief en leed het die vroue kennis gedra van Eileen Putter wie se dogter ’n suksesvolle knievervanging ondergaan het.
Mariné Pretorius was as die wenner van die gelukspakkie aangewys en April se verjaarsdagvroue Jané Oosterhuis, Magriet Swart en Carin Uys was deur Belinda Duvenhage met ’n vetplantjie elk geluk gewens.
Ansie van Zyl het ook die vroue rondom die Mola- en Srilanka borduurtegnieke ingelig. By die prysuitdeling het Ansie van Zyl, Marie Terblanche, Jané Oosterhuis en Margaret Bezuidenhout sertifikate vir streeksartikels met punte bo 85% ontvang.

Marie Jordaan het ook ’n sertifikaat vir haar unieke herwinningsprojek ontvang. Sertifikate vir artikels onder die provinsiale kompetisie het aan Ansie van Zyl en Marié Terblanche gegaan.
In die trofeewenners kategorie en as algehele wenner, was ook Marié Terblanche vir haar handvlyt, fotografie en pen-en-ink kunswerk vereer.
Ansie van Zyl, as lid onder drie jaar, het die meeste punte behaal vir brei- en naald-, borduur- en hekelwerk.
Jané Oosterhuis het ’n trofee vir haar gebottel en gebak ontvang. Oosterhuis het ook die gryp-die-dag trofee verower.
“Dit was deur Marié aan Jané toegewys ten opsigte van haar volgehoue ondersteuning, entoesiasme en daadwerklike reëlings van watter aard ook al, ten spyte van die unieke uitdagings wat sy as persoon daagliks moet trotseer,” het Swart ook gesê.
“Die VLU-lede was boonop weer oudergewoonte bederf met smaaklike eetgoed, stylvol voorgesit deur die gasvrouens, Carin en Jané.”
Mariné Pretorius het die oggend se verrigtinge afgesluit. Delmas VLU nooi weer alle belangstellende vroue om saam met hulle te kuier elke derde Dinsdag van die maand.
Vir meer inligting skakel Marié Terblanche by 083 968 2203.



