Tienjarige van Delmas met die stem van ’n nagtegaal, droom groot
“Sy loop heeldag en sing en die bure weet baie goed wanneer sy onder die stort inkim, want dan maak sy daai kleppe behoorlik oop.”
Stefanie Coetzee van Delmas is net 10 jaar oud, maar bekoor reeds baie met haar mooi stem en droom groot drome.
Soos enige ander meisie van haar ouderdom, is baie lief vir dinge soos Hawaian pizza, die Spur se ribbetjies, roomys met Milo daaroor gestrooi en ’n lekker Peacanut Sundae.
Sy is ook lief vir poetse bak en hou baie van raaisels. Stefanie is deel van ’n groot uitgebreide gesin waar pa Hayne en ma Louise vir boeties en sussies uit ’n vorige huwelik gesorg het.
Stefanie is egter die enigste kind en laatlammetjie van hierdie paartjie. Hulle is in 2011 getroud en het gedurende 2018 eers na Rietkol en toe in 2020 na Delmas verhuis.
Volgens Louise was Stefanie eers in Rakkers Kleuterskool op Delmas en daarna het haar skoolloopbaan by Laerskool Delmas begin. Sy is tans ’n skrander Graad Vier leerder by Dellies en blink boonop op die sportveld uit.
“Stefanie het reeds op die ouderdom van sewe begin liedjies sing; sy het sommer net spontaan begin saamsing met liedjies van Elaine Paige, Susan Boyle en Sarah Brightman,” het Louise vertel.
“Van kleins af was Phantom of the Opera een van haar gunstelinge.”
Een van Stefanie se grootste ikone is egter Corlea Botha. Dié bewondering het nog groter geword toe sy hoor dat Corlea ook van Delmas afkomstig is. Sy het verder ’n groot passie vir Gospel musiek.
“Stefanie hou van die aandag wanneer sy optree. Sy leer die woorde van nuwe liedjies vinnig,” het Louise verder laat hoor.
“Sy staan ook baie krities teenoor haarself en ons moet gewoonlik liedjies ‘n paar keer opneem voordat sy enigsins tevrede daarmee is.”
Volgens Louise help Hayne, wat self ’n groot liefde vir sing het, graag as dit by Stefanie se sang kom.
Sy was ook reeds by twee ander sang-afrigters.
“Dit hou egter nie, want Stefanie voel sy word teruggehou omdat sy nog so jonk is,” het Louise ook gesê. “Sy wil vinniger leer en meer doen.”

Hayne en Louise ondersteun vir Stefanie in haar toekomsdroom van sangeres wees.
“Ons erken dat sy het ’n baie mooi en unieke stem het. Sy hét die vermoë om te sing. Ons stuur ook graag van haar opnames vir die familie en dit bou haar selfvertroue ook op.”
Louise het gesê dat hulle as ouers wel bekommerd is oor dit wat daar buite in die industrie gebeur en al die risiko’s wat daarmee gepaard gaan.
“Sy word in God se Woord groot gemaak en geleer wat reg en verkeerd is. Sy is baie lief vir God.”
Vir nou en totdat die toekoms leer waarheen Stefanie met haar sangloopbaan gaan, geniet ons haar as ons klein prinsessie met die groot talent.
“Sy loop heeldag en sing en die bure weet baie goed wanneer sy onder die stort inkim, want dan maak sy daai kleppe behoorlik oop.”
Lees meer in ’n volgende uitgawe van Streeknuus oor Stefanie se onlangse deelname aan die Lexus Pop Classics Young Star-kompetisie en hoe sy daarin gevaar het.
ALSO READ: Team-up to Clean-up Bronkies works non-stop
ALSO READ: AfriForum se groentetuin op Bethal lewer goeie oes



